CrimeStreeknuus

Valke Buurtwag op Delmas beveilig gekaapte vragmotor

Die sleutel was in die aansitter, die ligte was aan, die bestuurdersdeur oop, maar daar was geen bestuurder in sig nie.

’n Gekaapte vragmotor is verlede week goedsmoeds agtergelaat en die verdagtes het gevlug.

Volgens die eienaar wat in die Potchefstroom-omgewing woon, is sy vragmotor met ’n vrag sojabone omstreeks 15:00 op Donderdag, 25 Augustus in die Devon-omgewing gekaap.

Lede van die AfriForum Delmas Valke Buurtwag het dié aand omstreeks 19:30 tydens ’n roetine patrollie op die verlate vragmotor afgekom.

Die vragmotor het reg in die R50 / Samuelweg T-aansluiting op Delmas gestaan.

Dit het verdag gelyk, want die sleutel was nog in die aansitter, die ligte was aan, en die bestuurdersdeur oop, maar daar was geen bestuurder in sig nie.

Die lede het dadelik om bystand op die radio geroep.

Binne enkele minute was buurtwaglede op die toneel.

Die GPS-stelsel binne die voertuig het daarop gedui dat die roete vir die N12 geskeduleer was.

Die gekaapte vragmotor met ’n vrag sojabone aan boord was deur Buurtwaglede opgemerk.

Lede van die buurtwag het vinnig reageer en die eienaar opgespoor.

Dié het bevestig dat sy voertuig vroeër die middag as gekaap aangemeld was.

Volgens hom, het die bestuurder hom gekontak en van die kaping verwittig.

Ná sowat 45 minute was daar nog geen teken van die polisie op die toneel nie.

Die buurtwag het intussen die verkeer beheer en na die vragmotor en sy kosbare vrag omgesien.

Die vragmotor het egter steeds in die T-aansluiting gestaan en het daarom ’n gevaar vir aankomende verkeer ingehou.

Dit kon dus nie hoër of laer nie, een van die buurtwaglede het ingeklim en die voertuig uit die pad van aankomende verkeer geskuif ten einde ’n ongeluk en moontlike beserings te voorkom.

Die gekaapte vragmotor waar dit deur kapers op die kruising van die R50 en Samuelweg op Delmas gelaat is.

Met die polisie en verkeer se aankoms op die toneel, was die aanduiding dat hulle die bestuurder van die vragmotor sou gaan haal het.

Die bestuurder het die vragmotor na die Delmas Polisiestasie geneem.

Die eienaar het verkies om nie ’n kaping- en ontvoeringsaak te open nie.

Volgens hom, sou dit beteken dat sy voertuig geskut moes word. Dit sou verder beteken dat hy geen inkomste vanaf die vragmotor sou kry nie.

Daar was boonop ’n vrag sojabone aan boord wat steeds afgelewer moes word.

Streeknuus het die Delmas Polisie oor die toename in kapings, veral van vragte met mielies en sojabone in die Delmas-omgewing gekontak, maar het teen druktyd geen terugvoer ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button