Laerskool Delmas se bussie gesteel en terug binne etlike ure
Veiligheidsinstansies op Delmas het vinnig reageer en kon vasstel dat die skoolbussie om ongeveer 02:00 uit die dorp op die R42, rigting Bronkhorstspruit gery het.
Reg om leerders die volgende dag na ’n sportfunksie te neem.
Dit was hoe Laerskool Delmas se Toyota Quantum-bussie op Woensdag, 7 September agter slot en grendel op die skoolterrein gelaat is.
Jakes Groenink, die skool se faktotum wie op die skoolterrein woon, het die volgende oggend wakker geword en besef dat die skool se bussie nie meer daar is nie.
Pieter Pieterse, ouer en lid van die skool se beheerliggaam, was vinnig op die toneel en die nodige veiligheidsinstansies is gekontak.
Volgens kamera-beeldmateriaal, is die bussie omstreeks 01:40 uit die skoolterrein gestoot. Op die beeldmateriaal kon ook duidelik gesien word hoe die bussie kort daarna aangeskakel en van die skool af weggery word.
Twee groot hekke by die skool is voor die diefstal oopgebreek om toegang tot die perseel te verkry.
Veiligheidsinstansies op Delmas het vinnig gereageer en het vasgestel dat die skoolbussie omstreeks 02:00 uit die dorp op die R42, rigting Bronkhorstspruit, gery het. Daar het die spoor doodgeloop.
Vir die mense van Delmas was dit egter nie die einde nie.

Volgens ’n lid van die gemeenskapspolisieëringsforum (GPF) het ’n skofwerker vroeg Woensdagoggend tuisgekom en ’n vreemde ‘taxi’ naby sy huis in die Waaikraal informele woonbuurt aan die R42 opgemerk.
Die man het die taxi-assosiasie van Delmas in kennis gestel en dié het op hulle beurt die polisie op Delmas van die vreemde en verdagte ‘taxi’ op Waaikraal laat weet.
Met die polisie se aankoms op die toneel, het hulle bevestig dat dit wel die skool se bussie is.
Dit was egter reeds gestroop van elke duidelike kenmerk en van die handelsmerke wat daarop aangebring is, is daar nie veel oor nie.
Die woorde Laerskool Delmas is egter glo nog sigbaar en die brandstofkap is steeds helder blou.
Teen druktyd is nog geen inhegtenisname gemaak nie.
Die hoof van Laerskool Delmas, Johan de Beer, het Streeknuus meegedeel dat hulle dankbaar is die bussie is teruggevind.
“Ons skoolbussie is tans by die paneelklopper, maar behoort binnekort weer ons kinders van en na sport en ander geleenthede te vervoer,” het De Beer gesê.
“Dankie aan almal wat so vinnig reageer het en bystand gebied het. Dankie aan Maksimum Sekuriteit, die AfriForum Delmas Valke Buurtwag, die Delmas Polisie en elkeen wat ondersteuning gebied het.”
De Beer het ook vir Pieter Pieterse vir sy bystand en hulp bedank.
“Dit was ’n ware spanpoging van ons gemeenskap en dit het goeie vrugte afgewerp,” het De Beer bygevoeg.


