Crime

Secunda Streekhof stuur stiefpa lewenslank tronk toe oor seksdade met dogters

Landdros sê dié man van Charl Cilliers het sy posisie van vetroue misbruik.

’n 40-jarige man wat sy twee stiefdogters verkrag en seksueel misbruik het, is op 4 Desember in die streekshof op Secunda lewenslank tronk toe gestuur.

Hy het op drie aanklagtes, naamlik verkragting en twee van seksuele aanranding, tereg gestaan. Hy is lewenslank gevonnis vir die verkragting en ses jaar elk vir die seksuele aanrandings.

Die drie vonnisse sal samelopend uitgedien word. Hy het in die hof gesê hy wil teen dié vonnis appelleer.

Dié man het sy oudste stiefdogter, wat agt jaar oud was in dié tyd, tot drie keer daagliks verkrag en die jonger stiefdogter seksueel aangerand.

Hy het selfs die oudste dogter uit die skool gehaal en gesê hy sal haar tuisonderrig terwyl hul ma voltyds gewerk het.

Dié verkragtings en aanrandings het vir etlike jare aangegaan.

Hy het, toe die gesin nog op Secunda gewoon het, aan hulle gevat en homself bevredig, maar later toe die gesin na Charl Cilliers verhuis het, het hy die oudste stiefdogter begin verkrag.

Dié man is in hegtenis geneem toe sy skoonma onraad vermoed het in die kinders se gedrag en die skool asook ’n maatskaplike werker se hulp ingeroep het en die saak by die polisie aangemeld het.

Streeklanddros Graham Cupido het in die hof gesê die man het hulle uit die skool gehaal omdat hy nie wou hê hulle moes met seuns praat nie.

Cupido het ook gesê verkragting is een van die ergste oortredings.

“Jy was in ’n posisie van vertroue en outoriteit en jy het dit misbruik,” het Cupido vir die man gesê tydens sy vonnisoplegging.

“Dit het by hul huis, wat veronderstel is om hul veilige hawe te wees en waar jy verondertel is om hulle te beskerm, gebeur. Jy het dit nie net een keer gedoen nie, maar herhaaldelike kere, dit gaan teen jou tel.

“Kinders is van die mees kwesbaarste lede van die gemeenskap en moet beskerm word. Dié oortredings het ’n ernstige effek op die kinders se fisiese en psigiologiese welstand gehad.

“Jy toon geen berou vir jou dade nie. Dit lyk of jy die oudste stiefdogter gekies het om jou vrou te wees sodat jy dié afskuwelike dade met haar kan doen.”

Dié man se naam sal ook in die register vir seksuele oortreders verskyn en hy is onbevoeg verklaar om met kinders te werk en om ’n vuurwapen te besit.

Sy naam word in berig weerhou om sy slagoffers se identiteite te beskerm.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button