Delmas-VLU woon deftige vrouetee op Witbank by
“Groet die persoon wat na jou in die spieël kyk en herken haar in haar volheid met liefde vir wie sy is.”
Swier, satyn, fyn porselein en keurig gedekte tafels het die vroue van Delmas se VLU-tak in Witbank begroet.
Delmas se vroue het onlangs ’n vrouetee vir die Carpe Diem-streek bygewoon.
Volgens Delmas-tak se skakelbeampte, Magriet Swart, was die tafels ryklik versier met antieke pienk rose onder glaskoepels en was daar stringe pêrels en geskenkies vir elke gas.
Die hooffokus van elke tafel was ’n asemrowende koek op ’n staander.
“Die een mooier versier as die ander,” het Swart laat hoor.
Marcelle van Vuuren, die adjunk-streekvoorsitter van die Carpe Diem-streek van die Vroue Landbou Unie (VLU), het dié spog geleentheid gereël.
Onder Van Vuuren se leiding het die vroue seker gemaak dat die gaste elkeen spesiaal voel in ’n atmosfeer van verfynde- en goeie smaak.

Van Vuuren het ook vir Cindy Coetzee, president van VLU Mpumalanga en Debbie du Plessis, streekvoorsitter van Carpe Diem verwelkom.
“Die twee vroue wat ons toegespreek het, het ons geïnspireer aan die hand van die vrou van Spreuke 31.
“Jessica Papenfus en Dora Zulu het spieëltjies uitgedeel met ’n kernwoord wat elkeen as wegwyser vir haar persoonlik kon kies. Woorde soos geloof, liefde en hoop het na die oppervlak gekom.”
Die sprekers het ook die selfbeeld van vroue beklemtoon met vier oulike en praktiese voorbeelde: “Groet die persoon wat na jou in die spieël kyk en herken haar in haar volheid met liefde vir wie sy is.”
“Dink oor die dag wat voorlê en besluit wat jy in daardie dag wil bereik en die stappe wat jy gaan volg om dit na te streef.
“Dank God vir die talente en geleenthede wat Hy vir jou gee en leef uit daardie perspektief voort.
“Talente gee betekenis wanneer dit na ander mense versprei word.”

Laastens moet lofprysing tot God en eer aan Hom as Skepper gebring word.
“Sou hierdie vier stappe elke oggend gevolg word, moet vroue nie verbaas wees as mense óm jou verander nie, want verandering vind plaas wanneer dit by jouself begin,” is volgens Swart die wyse woorde wat die sprekers met die vroue gedeel het.
Hierna het Van Vuuren die simboliek rondom ’n teepot ryklik beskryf.
“Dit wat jy in die teepot gooi, of dit blomblare, kruie- of teeblare is, meng met mekaar sodra die kookwater bygegooi word.
“Laat dit vir ’n rukkie staan sodat die geur ontwikkel. Skink dit dan in ’n geskikte koppie en geniet die aroma wat die resultaat van tyd na jou bring.
“So is dit met vriendinne wat elkeen haar unieke karakter bring en saam met vriendinne verwyl.
“Sy sal ’n ryker mens weggaan en waar daar liefde en omgee in die geselskap bygevoeg word, sal dit weer na ander oorspoel.”



