CrimeLocal newsStreeknuus

Op en wakker Delmas-boere dra by tot groot dagga-vonds

Die bestuurder het probeer wegjaag, maar parate boere het die Ford se bande stukkend gesteek.

Die polisie op Delmas het op ’n rekord hoeveelheid dagga beslag gelê. Gedurende die vroeë oggendure het boere in die Delmas-omgewing ’n roetine gedoen.

Volgens kaptein Carla Hartley, mediawoordvoerder van die Delmas Polisie, het die boere wat lede van ’n plaaswag is op 20 Februarie omstreeks 03:00 patrollie gery om seker te maak dat hul veiligheidswagte aan diens was en alles in die omgewing in orde is.

Die plaaswaglede het drie verdagte voertuie in die mielielande opgemerk en besluit om ondersoek in te stel.
Met hul aankoms het twee bakkies weggejaag, maar ’n blou Ford Territory het op die toneel agter gebly.

Die lede het die Ford se bande stukkend gesteek om te keer dat die voertuig wegkom.

Die plaaswaglede het aan die donker getinte vensters van die Ford geklop en aan die bestuurder gevra wat hy in die mielielande doen.


LEES OOK: Horn appears in Secunda Court again on murder charge


Die verdagte het uit die voertuig gespring en in die mielielande verdwyn. Die plaaswaglede het opgemerk dat die voertuig vol sakke met dagga daarin gelaai is.

Die Delmas Polisie is gekontak en die voertuig sowel as die sakke dagga was by die Delmas Polisie ingeboek.
Verpak in 31 sakke het die dagga-vonds ’n astronomiese 344kg beloop met ’n straatwaarde van bykans R1.4 miljoen.

Volgens Hartley is dit die grootste dwelm-vonds wat die Delmas Polisie tot op hede hanteer het.

Sy het die boere wat tot die sukses bygedra het vir hul vinnige en parate optrede bedank. Teen druktyd was daar nog geen inhegtenisnames gemaak nie.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button