CrimeLocal newsStreeknuus

Oud-Delmasser bid hardop deur kapingsdrama

Die ‘offisier’ het sy hand by die venster ingesteek en die deure van binne oopgemaak. Intussen het twee ander mans in my voertuig geklim en ek was vanaf die voorste gesleep waar ek basies met my bene tussen die twee voorste sitplekke gesit-lê het.”

Elma Smit (51) het hardop in Engels gebid vir haarself en vir die kapers. Dit was haar enigste hoop toe sy die soveelste slagoffer van ’n kapingsdrama op die N12 geword het.

Smit, ’n bekende oud-inwoner van Delmas, het vir baie jare vir ’n groot bankgroep op Delmas gewerk waarna sy onlangs na Middelburg verhuis het.

Sy was op 26 Januarie vanaf Alberton na Middelburg in haar Toyota Fortuner op pad. Volgens Smit het sy vinnig gery, want sy wou juis nie vrou-alleen op die N12 wees nie.

“Ek weet dat ek ’n bordjie gesien het wat aangedui het dat dit nog 40km na Witbank is. Skielik het ek van flitsende blou ligte agter my bewus geraak. Ek het geweet van die blouligkapers se bedrywighede op die N12.

“n Hele paar dinge het gelyktydig deur my kop gegaan. Moes ek stop, want ek hét vinnig gery, of moes ek aanry? Was dit die polisie? Maar wat as dit dalk kapers is en hulle begin op my skiet?

“Ek het soos ’n wetsgehoorsame burger van Suid-Afrika besluit om tog te stop. n Vriendelike offisier, geklee in polisie-uniform, keps en gesigmasker het na haar toe aangestap gekom.

“Ek het my venster ’n entjie oopgedraai en die man het my gevra om my bestuurderslisensie te toon. Hy het my ook verseker dat ek nie bang hoef te wees nie en die venster groter moet oopmaak. Ek het oorgeleun om my beursie met my lisensie nader te bring.”

Die ‘offisier’ het sy hand by die venster ingesteek en die deure van binne oopgemaak.

“Intussen het twee ander mans in my voertuig geklim en ek was vanaf die voorste sitplek na agter getrek waar ek basies met my bene tussen die twee voorste sitplekke gesit-lê het.”

Smit se hande is ook met kabelbinders vasgemaak. Die eerste man het agter die stuurwiel ingeklim maar die motor se enjin het gestol.

“Weens die sleutellose tegnologie en spesiale toep op my selfoon waarmee die motor aangeskakel moes word, moes ek stap vir stap verduidelik, want die mans was nie bereid om my selfoon aan my te oorhandig nie.”


ALSO READ: GMM’s municipal manager speaks at CPF’s public meeting


Volgens Smit het die kapers op die N12 omgedraai en weer in die rigting van Delmas gery.

“Ek kon voel dat hulle heen en weer op die N12 ry. Hulle het my vir kontant gevra en sou my ook na ’n motorhawe neem om meer geld te trek. Ek het nie weerstand gebied nie.”

Intussen het die een man glo die heeltyd beveel dat sy (Smit) geskiet moes word.

Smit kon daarin slaag om haar hande los te kry, maar die kapers het dit opgemerk en haar hande weer vasgebind.
Die kapers het bly hamer op die satellietopsporingtoestel se ligging.

“Ek het aanhoudend verduidelik dat ek nie weet waar dit is nie.”

Die voertuig het skielik tot stilstand gekom, die drie mans het uitgeklim waarna vier ander ingeklim het. Volgens Smit het die kapers weer weggery.

“Ek vermoed dat die bloulig voertuig heel waarskynlik die heel tyd agter my voertuig gery het. Die opsporingstoestel was intussen geaktiveer, my man het bekommerd geraak en begin om my selfoon aanhoudend te bel.

“Ek het die kapers meegedeel dat dit my man was en dat hy seker reeds die polisie ingelig het en dat hulle heel waarskynlik reeds op die uitkyk vir my was.

“Tussendeur het die mans my trouring, horlosie, oorbelle en die kontant wat ek by my gehad het afgeneem.

“Ek vermoed dat die feit dat ek nie kon se waar die opsporingstoestel was nie en my man wat sonder ophou gebel het, die kapers genoop het om moed op te gee. My man het soveel as 32 keer na my selfoon gebel.”

Volgens Smit het hulle die Fortuner weer digby die Red Star Raceway aan die N12 tot stilstand gebring.

“Hulle het my in geen onduidelike terme laat verstaan dat ek my kar moet vat en ry.”

Intussen het ’n voertuig agter my Fortuner tot stilstand gekom. Volgens Smit het die kapers, in totaal sewe, al die voertuig se deure oopgemaak en dit deursoek.

“Ek kon daarin slaag om my hande weer los te kry, na die bestuurdersitplek oorgespring en weggejaag.”

Smit het in Witbank by haar man se kinders gestop vanwaar hulle haar man, wat rasend van bekommernis was, geskakel het.

Volgens Smit het baie gedagtes soos dat hulle haar sou skiet of verkrag deur haar brein geflits. Smit het verder gesê dat haar uitkyk op kapings totaal verander het.

“Nooit ooit weer sal ek vir enige voertuig met blouligte stop nie. Ek beveel aan dat motoriste hulle noodligte aansit en na die naaste veilige plek ry. Ons was geleer om ontsag vir die polisie te hê, maar gebeure soos die verander jou standpunt. Jou lewe is belangriker en indien jy wel ’n slagoffer van ’n kaping of poging tot kaping word, moet nie teenstribbel nie, maak soos die kapers vra en gee jou samewerking.”

Smit ook gesê dat motoriste ’n noodtoepassing op hul fone moet installeer. Indien jy wel in die situasie kom moet jy elke beskikbare noodtoepassing aktiveer, nog voordat die persoon by jou voertuig kom.

“Ek het my selfoon, persoonlike besittings, bankkaarte en ’n bedrag kontant verloor, maar met genade, is my lewe gespaar. Ek glo die feit dat hardop gebid het, vir die kapers en vir myself en onder die omstandighede koelkop gebly het, dalk my behoud was.”



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button