José Castro het ’n holte vir sy voet naby Standerton gevind
Die sakeman het naby die see grootgeword en sou sy visstok in Madeira vat om smaaklike seevis uit te trek.
José Castro is ‘n inwoner en sakeman van Vrede, wat die alombekende Kubaanse van met die voormalige rewolusionêr deel.
Sy pa het altyd tong-in-die-kies gesê dat Fidel sy broer is.
Die Castro’s woon sedert 1973 op Vrede en het gereeld die Krugerbrug, oftewel ysterbrug, oorgesteek na Standerton.
José se eggenoot Colleen is twee jaar gelede in Julie oorlede en hy het ook ’n seun, Manuel, aan die dood afgestaan.
Sy dogter Teresa en haar man, GP Goosen, het twee dogters, terwyl sy seun, Frankie en vrou, Bianca, spog met twee dogters en ’n seun.
Die Castro’s het destyds, ten tye van die konflikte in Angola en Mosambiek, van Madeira na Suid-Afrika verhuis.
“My pa het gesê hy wil nie hê sy kinders moet doodgaan nie,” het José vertel.
Die gesin het Suid-Afrikaanse burgerskap in 1968 verkry.
José bestuur al vir donkiejare sy winkel op Vrede, hoewel hy op Carletonville in 1964 gewerk het.
“Dit was dié jaar toe die sinkgat ingeval het.”
Daarna is hy vort Welkom toe en Colesberg in die Karoo het gevolg.
Hy was op Colesberg bedrywig om die koolstoof reeds van 06:00 in die kafee te stook om vir reisigers koffie te gee.
“Hulle was haastig op pad Kaap toe,” aldus José.
Hy onthou wel die etes.

“Die skaaptjoppies in die Karoo is baie lekker.”
Hy het ook vir Colleen daar ontmoet wat oraloor by die poskantoor sentrale gewerk het. Hulle is op Bethulie getroud, waar José vir ’n kort tydjie in ’n vennootskap met ’n winkeleienaar was.
José is ook ’n nutsman en met sy bewese ondervinding, kan hy ’n koolstoof in ’n ommesientjie regmaak.
Hy het genoeg onderdele en ou meubels deur die jare opgegaar om van die hand te sit.
In sy groentetuin bewerk hy van alles of nog wat soos aartappels, pampoene, mielies en skorsies.
José het naby die see grootgeword en sou sy visstok in Madeira vat om smaaklike seevis uit te trek.
Hy het tot onlangs die mark by City Deep in Johannesburg besoek om items soos olyfolie en tuna te gaan optel.

Dit is in sy gene want sy oupa was ’n visserman. Hy het met seekat en mossels grootgeword.
“As dit laagwater was, het my pa ons toestemming gegee om saam met oupa te gaan,” het hy gesê.
By een geleentheid het hy en sy broer vroeg opgestaan om seepalings te gaan vang.
Met geen yskaste in daardie tyd nie, het sy ma die sak palings gepekel en op die dak van die huis gesit om droog te word.
José het deur die jare die dorp sien verander. Hy was daar toe die Vrede Hotel fluks sake gedoen het.
Hy ry nog gereeld deur Standerton toe en ken al die slaggate op die pad.
ALSO READ: Famous couple visits Little Paws Big Hearts with outreach at Trichardt
ALSO READ: Hefty sentence imposed in Bronkhorstspruit for the possession of an illegal firearm



