Nog ’n vlaag gewelddadige onluste en plundery ruk Delmas
Oproerige en meestal aggressiewe betogers het geen voertuie deurgelaat nie. Verskeie voertuie was ook aan die brand gesteek.
Brandende bande, padversperrings, uitgebrande voertuie en gewelddadige klipgooiers in en om Delmas het weer eens daarvoor gesorg dat die dorp in totale chaos gedompel was.
Reeds vanaf 28 Maart het opstokers begin om buitebande op die N12-hoofweg digby Delmas aan die brand te steek, voertuie was tot stilstand gedwing en kon nie in die rigting van Johannesburg beweeg nie.
Die Delmas polisie moes van rubberkoeëls gebruik maak om die oproeriges vanaf die N12-hoofweg te verwyder.
Teen 29 Maart het die woord die rondte gedoen dat die ingange by Botleng op die R42-pad, die R555-pad vanaf Delmas na Ogies sowel as die N12-hoofweg met brandende bande, stompe en klippe versper was.
Oproerige en meestal aggressiewe betogers het geen voertuie deurgelaat nie. Verskeie voertuie was ook aan die brand gesteek.

Die polisie se eenheid vir openbare orde (POP) het vanuit alle oorde by die Delmas polisie aangesluit in ’n poging om die opstande onder beheer te bring.
Teen Donderdag het video’s die rondte gedoen waarin daar gesien kon word hoe ’n voertuig wat vleis vervoer het, by die vierrigting-kruising by Van Zylstraat voorgekeer word en in die helder daglig van elke stukkie vleis daarop geplunder word.
Die Delmas polisie in samewerking met POP, privaat sekuriteitsmaatskappye en die AfriForum se Delmas Valke Buurtwag reaksiegroep het bystand gelewer in ’n poging om die grootskaalse skade, plundery en blokkering van ingange onder beheer te probeer kry.
Die Valke se reaksiegroep het ook bystand gelewer deur brande bande te blus en vanaf paaie te verwyder. Paaie was ook 24/7 gemonitor en inligting aan die Delmas Polisie deurgegee.

Volgens inligting was daar sowat twee swaarvoertuie en vyf bakkies aan die brand gesteek. Verskeie ander voertuie was ook erg beskadig nadat dit met klippe bestook was.
Tydens die nuutste vlaag van gewelddadige protes in en om Delmas was die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit ook toe. Geen dienslewering het plaasgevind nie en vullis was nie verwyder nie en inwoners moes noodgedwonge by geslote deure omdraai.
Verskeie besighede was ook gesluit, sommige uit vrees vir plundery en ander bloot omdat geen werkers vanuit Botleng toegelaat was om na hul onderskeie werksplekke te gaan nie.
Die nuutste vlaag van gewelddadige betogings op Delmas spruit uit ’n vorige voorval waartydens die ingange na Delmas ook versper was en grootskaalse plundery plaasgevind het.
LEES OOK: Evander residents are tired of medical waste in street
Tydens die vorige betogings was daar ’n memorandum aan die burgemeester van Delmas, Vusi Buda oorhandig. Hierin sou sekere ultimatums aan die myne in die Delmas omgewing gestel word waarin verskeie vereistes gedokumenteer was.
Die opstokers het die betrokke partye sewe dae gegee waarin daar op hulle versoeke gereageer moes word.
Uitstel was gevra, maar teen 27 Maart kon die organiseerders van die betogings skynbaar nog geen bevredigende antwoorde op hul versoeke kry nie.
’n Vergadering, weer gelei deur Buda, het op 31 Maart tussen leiers van die opstokers, myne en ander belanghebbendes, onder andere die Delmas Taxi Assosiasie (DTA) plaasgevind.

Teen druktyd kon Streeknuus nie regstreeks met van die belanghebbendes in verbinding kom nie, maar het vertroulik verneem dat die ‘leiers’, steeds daarop aandring dat plaaslike inwoners deur myne en ander groot besighede in diens geneem sal word.
Die toekenning van beurse, opleiding en plaaslike besigheidsgeleenthede was glo ook onder van die eise wat op die tafel geplaas was.
Volgens ’n persoon wat dié vergadering bygewoon het, was daar baie eise gestel en nog meer beloftes gemaak.
“Delmas is nou stil, maar vir hoe lank weet ons nie, want sommige van daardie eise is bloot net nie prakties uitvoerbaar nie. As gevolg daarvan het besighede van binne en buite Delmas weer etlike miljoene rande se skade gelei.
“Delmas word tot in die grond in vernietig, afgebreek, gebrand en geplunder, maar tog is daar die wat ‘demand’ en aan die lig daarvan vind gewelddadige plundery plaas.”





