Veiligheidskameras teen misdaad op Delmas ingespan
Die Delmas Polisie was gekontak en die twee verdagtes, twee Malawiese burgers, was in hegtenis geneem. Die derde verdagte het van die toneel gevlug.
Twee vermeende inbrekers het hulle misgis met die invloed wat goed geplaaste veiligheidskameras op hul beplande kriminele aktiwiteit sou inhou.
Gedurende die vroeë oggendure van 9 Mei het die kameras alarm gemaak by CamFX, ’n plaaslike veiligheidsmaatskappy op Delmas.
Die personeellid aan diens by CamFX het om 01:00 drie verdagtes op die kameras opgemerk wat in ’n stegie agter besighede in die omgewing van die hoofstraat op Delmas beweeg het.

Hierna het dinge glo vinnig gebeur. CamFX het onmiddellik die hulp van AfriForum se Valke Buurtwag op Delmas ingeroep.
Effektiewe radiokommukasie tussen die buurtwag, CamFX en twee ander veiligheidsinstansies op die dorp het daartoe gelei dat twee van die drie verdagtes vinnig vasgetrek kon word.
Die Delmas polisie is gekontak en die verdagtes, twee Malawiese burgers, is in hegtenis geneem.

Die derde verdagte het vanaf die toneel gevlug. Nadere ondersoek het bevind dat daar by die PEP-winkel in Sarel Cilliersstraat ingebreek is.
Rekenaartoerusting en die alarmstelsel was reeds buite werking gestel en gedeeltelik vernietig. Volgens inligting het die verdagtes deur die dak van die gebou toegang tot die winkel gekry.
In ’n soortgelyke voorval het verdagtes gedurende die laatnagure van 6 Mei toegang tot ’n ander onderneming, ook in Sarel Cilliersstraat, probeer kry.
ALSO READ: Card skimmer from Leandra goes to jail
In dié geval is daar ook gepoog om deur die dak toegang te kry.
Weereens het die kameras van CamFx alarm gemaak en kon die buurtwag die booswigte verjaag vóór enige iets gesteel is.
Volgens onbevestigde inligting was daar glo ook gedurende die nag van 4 Mei by die PEP-winkel in die Willowbrooke Square-winkelsentrum op Delmas ingebreek. Geen verdere inligting kon egter bekom word nie.

Die vermoede bestaan egter dat die drie voorvalle met mekaar kon verband hou. Andrew McAdam, mede-eienaar van CamFX, het gesê hy waardeer die bystand van die buurtwag.
“Met die hulp van die Valke Buurtwag en ons sekuriteiskameras kan ons die inwoners en sakelui op Delmas ’n groot mate van gerustheid gee.”
Teen druktyd kon ’n datum vir die twee verdagte inbrekers se verskyning in die hof nog nie bevestig word nie.



