Delmas trek ’n nuwe baadjie aan
“Dit is amper asof daar ’n kompetisie van sy eie op Delmas ontstaan het oor wie en wat die meeste en die mooiste kon doen. Dit is egter gesonde kompetisie en hou voordeel in vir die inwoners en besigheid op ons dorp.”
’n Positiewe energie het onder die inwoners, sakelui en vrywillige instansies van Delmas posgevat. Daar is die afgelope drie weke hard gewerk en saamgestaan om van Delmas ’n beter dorp vir almal te maak.
Nie net is Delmas as een van Mpumalanga se finaliste vir die Dorp van die Jaar op KykNET se Kwêla benoem nie, maar het inwoners en besighede ook uit hul pad gegaan om dié benoeming in ’n positiewe lig te sien en aan te wend om die dorp ’n opmerklike gedaanteverwisseling te laat ondergaan.
“Dit is byna asof daar ’n kompetisie van sy eie op Delmas ontstaan het oor wie en wat die meeste en die mooiste kon doen. Dit is egter gesonde kompetisie en hou voordeel in vir elke inwoners en besigheid op ons dorp. Die samewerking was hartroerend,” het ’n sake-eienaar Streeknuus meegedeel.

Velde en parke is skoon gesny en verfraai. Delmas Herleef, onder leiding van Madel Fourie, het die ingang by die R42/R50 kruising na Van der Waltstraat mooigemaak.
Die Delmas Begraafplaas is netjies gesny en grafte skoongemaak. Aan die R50 is slaggate gevul, sypaadjies skoon gemaak en randstene geverf.
By verskeie van die hoofingange na Delmas is slaggate gevul, oorgroeide sypaadjies skoon en netjies gemaak. Selfs skole en kleuterskole het ingespring, papiere opgetel en die omgewing rondom hul geboue skoon gemaak.

In Sarel Cilliersstraat, die hoofstraat van Delmas, het Delmas Herleef met behulp van Schoeman Boerdery die strate skoongemaak en randstene op die middelman geverf.
Gossa Holdings het die volgende dag met mening ingeklim en ook hul deel gedoen deur randstene te verf.
Gossa Holdings, onder die dekmantel van Delmas First, het verder met die voorstel gekom dat elke onderneming op die dorp elke Vrydag vir twee ure ‘voor hul eie deur vee’ en sodoende dit wat nou gedoen is te behou vir môre en die dag daarna.

Dr Martin van Rensburg het ook namens Delmas Herleef elke individu, besigheid, instansie en die plaalike munisipaliteit bedank vir hulle moeite, tyd en onbaatsugtige opoffering om van Delmas ’n plek te maak om op trots te wees, lekker is om in te woon en waarin kinders grootgemaak kan word.
“Dit is byna onmoontlik om elkeen te bedank. Daar was soveel mense wat die afgelope tyd bygedra het, skenkings gemaak en baie hard gewerk het.
“Die Here het vir ons ’n woonplek gegee, ’n plek om op te pas en te versorg. Van Rensburg het voortgegaan deur Nehemia vanuit die Bybel as voorbeeld te noem.

“Ook Nehemia was uitgelag en gekoggel in sy poging om die mure van Jerusalem oor te bou. Hy het om hulp en geduld gevra en daarin geslaag.
“Hierdie is dus vir my en vir almal wat bydra tot die vernuwing van Delmas, ’n Nehemia-oomblik,” het Van Rensburg bygevoeg.
“Die afgelope tyd se samewerking in die gemeenskap is die begin van ’n herlewingsproses, wat ons glo nog ’n groter uitkring-effek in ons land gaan hê,” het Van Rensburg afgesluit.











