Boervrou onderrig in wiskunde en wetenskap by privaatskool op Standerton
Lettie het vir 11 jaar by Hoërskool Standerton skoolgehou en in 2018 by die privaatskool in Meyerville begin klasgee vir Grade Sewe, Agt en Nege in wiskunde en wetenskap.
Lettie Fischer van Standerton Akademie het al drie keer probeer om die onderwys vaarwel te roep, maar die dringende behoefte aan die vakgebiede van wiskunde en wetenskap maak seker dat sy nog ’n jaar in die klaskamer staan.
Dié Laevelder is gebore op Bosbokrant en haar pa se beroep as landdros het verhuising op meer as een geleentheid genoodsaak.
Sy het aan Merensky Landbou Akademie op Tzaneen, Limpopo, haar matriek geskryf en die vriendskapsbande wat gevorm is bestaan steeds na 50 jaar.
“Dit was ’n landbouskool in ’n plaasomgewing en ons koshuismaats het mekaar geestelik ondersteun,” het Lettie gesê.
Lettie het ook in die hoërskool tot bekering gekom. By die voormalige Potchefstroomse Universiteit het sy ’n BSc met huishoudkunde suksesvol voltooi en ’n onderwysdiploma in haar vierde jaar verwerf.
Haar eerste kennismaking met die klaskamer was in Mbombela (Nelspruit) alvorens sy ’n pos in haar tweede jaar by Morgenzon Landbou Akademie aanvaar het.
Die dominee by die jeugaksie op Morgenzon het haar betrek as sekretaresse en haar toekomstige eggenoot, Riaan, as voorsitter.
Die koeël was deur die kerk. Hulle spog met drie kinders en altesaam nege kleinkinders waarvan sewe in Standerton Akademie is.
Die geboorte van haar kinders was beslis ’n hoogtepunt in haar lewe. Lettie se hart staan wyd oop vir haar vele aanneemkinders en sy is in die bevoorregte posisie om sewe van haar afstammelinge daagliks by die skool te sien.
Riaan boer nou uit op die Tutuka-pad met skape en beeste en verhuur die lande, waar sojabone en mielies verbou word.
Sy durf vroegoggend die 40km aan om betyds by die CVO-skool te wees.
Lettie het vir 11 jaar by Hoërskool Standerton skoolgehou en in 2018 by die privaatskool in Meyerville begin klasgee vir Grade Sewe, Agt en Nege in wiskunde en wetenskap.
“Onderwys is ’n roeping,” het sy gesê.
“As die leerders daagliks hulle huiswerk doen, begin hulle in hulself te glo en raak al hoe beter.”
Sy skryf die eienskappe van liefde en geduld in die skoolomgewing hoog aan.
“‘n Mens moet verstaan dat die kinders nie jou agtergrond het nie.”
Sy was ’n tuisteskepper toe haar kinders klein was en het agter die naaimasjien ingeskuif.
“Ek het trourokke gemaak om uit die kwaad te bly.
“Naaldwerk is vir seker terapeuties.”
Nou hekel sy graag. Lettie het ’n lewendige belangstelling in geskiedenis, nie net op eie bodem nie, maar ook wêreldwyd.
Die romans van Irma Joubert is vir dié boekwurm ’n móét. Haar o8 netbalspan het uitsonderlik presteer en het die winterspele op Groblersdal beklink.
Oorsese reise was haar ook beskore en sy het Bangkok in Thailand, Italië en Turkye al besoek.
“Ek het saam met my niggie, skoonsuster en twee susters Rome, Florence en Venesië besoek.”
Vir Lettie was die natuurskoon van Italië ’n belewenis. Die Italianers het haar nie as joviaal opgeval nie, terwyl die gemoedelikheid van die Turke haar bybly.
Kersfees is en bly vir hierdie familievaste vrou ’n tyd om mekaar te omarm.




