Local newsStreeknuus

Delmas vorm deel van Tooi Turkoois vir Bejaardes 2023

“Aktiewe veroudering vorm ’n belangrike deel van ons lewe en daarom is dit noodsaaklik dat die gemeenskap en gemeentes hulle bejaardes mooi sal versorg, maar ook deel hou van ’n aktiewe gemeenskap.”

Tooi Turkoois vir senior burgers is ’n jaarlikse instelling wat deur die Algemene Diakensvergadering van die Nederduitse Hervormde Kerk gedryf word.

Vanjaar se byeenkoms het op 27 Mei by die Voortrekker Monument plaasgevind.

Delmas het deel uitgemaak van sowat 260 senior burgers wat ook vanaf Pretoria en die Oosrand die koue getrotseer en gesellig saam gekuier het.


Volkspele tydens die Tooi vir Turkoois byeenkoms by die Voortrekker Monument.

“Behalwe vir lekker boeremusiek en Volkspele het ons weer gehoor hoe belangrik dit is dat ons senior burgers goed versorg moet word.

“Aktiewe veroudering vorm ’n belangrike deel van ons lewe en daarom is dit noodsaaklik dat die gemeenskap en gemeentes hulle bejaardes mooi sal versorg, maar ook deel hou van ’n aktiewe gemeenskap,” het doktor Martin van Rensburg, predikant van die Hervormde Kerk op Delmas gesê.

Van Rensburg het verder gesê dat alhoewel die ouderdom nuwe eise en uitdagings bring, senior burgers steeds ’n aktiewe rol in die gemeenskap kan speel.


Gesellige saamkuier by die Voortrekker Monument.

“Met jare se ervaring en lewenswysheid is baie bejaardes dikwels bereid en gewillig om dit te doen wat gedoen moet word. In sommige gevalle dalk ’n bietjie stadiger, maar steeds doelgerig.”

Volgens van Rensburg vorm tuisversorging vorm ’n belangrike deel van senior burgers se versorging.

“Omdat die kostes van ouetehuise in sommige gevalle bokant kinders se finansiële vermoë is, is meer en meer families verplig om na hulle eie bejaarde ouers om te sien. In dié opsig word tuisversorging dus al hoe belangriker.”


Boeremusiek vermaak die gaste by Tooi Turkoois.

Van Rensburg het verder gesê dat Solidariteit Helpende Hand kursusse in tuisversorging aanbied. By vanjaar se Tooi Turkoois-byeenkoms was inligting juis hieroor gedeel en mense word aangemoedig om studente te identifiseer en aan te moedig om hiervoor in te skryf.

“Oud word is nie noodwendig ’n probleem nie. Dit moet net goed bestuur word. Ons almal word ouer en daarom is dit belangrik dat ons betyds moet beplan.

“Hierdie beplanning is meer as finansiële beplanning, dit is ook geestelike en emosionele beplanning. Met al die veranderinge wat plaasvind, is dit belangrik dat ons aktief moet bly. ’n Gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees.

“Tooi Turkoois het ons weer eens bewus gemaak dat dit lekker is om ouer te word. Geniet jou ouderdom en deel in mekaar se vreugde,” het van Rensburg afgesluit.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button