Local newsStreeknuus

Woorde vloei maklik uit jong digter van Delmas se pen

“Dit is veral lekker om vir mamma, sommer daar in die kombuis waar sy besig is om kos te maak, my gedigte voor te lees”.

Gee vir haar drie woorde en sy skryf vir jou ’n gedig. Dit is René Quinn, ’n leerder aan Hoërskool Delmas. Pen en papier is haar beste vriend.

René is 16 jaar oud en is vanjaar in Graad 10, maar het gesê dat die inspirasie om te dig haar eers verlede jaar getref het.

“Ek het op ’n dag tyd op Pinterest deurgebring en daar op die gedigte van Lang Leave afgekom. Haar gedigte het my getref en geïnspireer tot waar ek begin het om los goedjies op papiertjies te skribbel waarna ek die pen en papier opgeneem en die woorde begin vloei het.”

Volgens René skryf sy baie gedigte. Tydens Streeknuus se onderhoud met haar haal sy twee A4 boeke uit haar skooltas.

“Ek is nie seker hoeveel gedigte ek al geskryf het nie, maar dit is baie. By die huis het ek ook nog ’n swart leerband boekie met van my heel eerste gedigte.”

Op ’n vraag aan René waaroor sy graag skryf, was haar antwoord: “Meestal inspirasie-goed, maar so ’n tyd gelede het ek alleen gevoel en depressie het aan my gevat en toe het my pen en papier die hartseer uitgebring.”

René voel dat sy in die oomblik en die gevoel dig. “My papier, my pen en die woorde wat ek daarop skryf help my nogal soms om vanuit die werklikheid te ontsnap.”

Sy word glo ook snags wakker met ’n gedagte of woorde en dan moet dit dadelik op papier gesit word.

René het ook gesê dat sy na skool baie graag forensiese antropologie sou wou gaan studeer het, want beendere en die geheimenisse daaromtrent fassineer haar. Haar wiskunde punte op skool het haar egter in die steek gelaat en sy moes oorskakel na wiskunde geletterdheid.


‘n Uittreksel uit een van René Quinn se gedigte.

Haar kop staan nou onderwys toe met lewenswetenskap as die vak wat sy graag op hoërskool-vlak sou wou aanbied.

Sommer so uit die bloute het René aan Streeknuus meegedeel dat sy ook besig is om ’n boek te skryf. Sy het reeds op 14-jarige ouderdom daaraan begin skryf en sy vorder glo redelik fluks daarmee.

Die inhoud sou fiksie wees en Streeknuus kon vasstel dat die mafia en René se belangstelling met menslike beendere deel daarvan is.

René is ook deel van Hoërskool Delmas se baie bekende toneelgroep en sy het vertel dat sy dit baie geniet en haar maklik in toneelspel inleef.


Rene Quinn met een van haar A4-boeke waarin sy gedigte neerpen.

By René se ouerhuis op Delmas is daar nog twee boeties, jonger as sy. Haar ouers weet dat sy skryf en hulle ondersteun haar.

“Dit is veral lekker om vir mamma, sommer daar in die kombuis waar sy besig is om kos te maak, my gedigte voor te lees.”

René se huistaal is Afrikaans, maar sy skryf meestal in Engels.

“Ek gaan soms na my Engelse onderwyseres en vir haar om vir my drie woorde tee, enige drie. Ek sien hierdie drie woorde as ’n groot uitdaging woorde, maar vorm ’n gedig daar rondom.”

Om aan te hou skryf is René se wens en om moontlik eendag ’n digbundel of haar fiksie boek te publiseer net nog ’n droom, een wat dalk realiteit kan word.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button