AfriForum se Mpumalanga-takke toets vir cholera
Die Randwater-netwerk het skoon getoets en dus sal ander dorpe in die provinsie wat deur Randwater voorsien word ook skoon toets.
Verskeie AfriForum-takke in Mpumalanga het op 7 Junie watertoetse gedoen om vas te stel of daar cholera in die munisipale drinkwater teenwoordig is.
Hulle het op Ermelo, Standerton, Bethal, Middelburg en Witbank watermonsters geneem. Die monsters was deur ’n geakkrediteerde laboratorium getoets.
Volgens ’n mediaverklaring soos uitgereik deur AfriForum op 30 Junie, het die uitslae van 28 Junie gewys daar is geen tekens van cholera of E.coli in die water teenwoordig nie.
“Ons is dankbaar dat al die drinkwater skoon is, maar inwoners moet nie te gerus wees nie. Munisipaliteite se suiweringsaanlegte is erg onder druk weens beurtkrag en ander uitdagings soos besoedeling in spruite en riviere,” het Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld gesê.
LEES OOK: AfriForum op Bethal maak weer slaggate reg
Behalwe vir Bethal, wat deur Randwater van water voorsien word, het al die dorpe waar daar watermonsters geneem is, hul eie suiweringsaanlegte.
Die Randwater-netwerk het skoon getoets en dus sal ander dorpe in die provinsie wat deur Randwater voorsien word ook skoon toets. Hierdie dorpe sluit onder meer Delmas, Eloff, Sundra, Leandra, Evander, Kinross en Secunda in.
“Die swak bestuur en onbevoegdheid van munisipaliteite is nou vinnig besig om hulle in te haal. As daar nie dringend aandag gegee word nie, gaan hierdie kwessie net vererger,” het Bekker afgesluit.
Raak by AfriForum se Mpumalanga-takke betrokke en help om jou omgewing beter te maak. Besoek www.wordlid.co.za



