Local newsStreeknuus

Meneer Bokkie groet Laerskool Delmas na 33 jaar

“Tans is dit is skoolvakansie, maar ek glo dit gaan vreemd voel wanneer die skole heropen en ek besef dat ek nie moet teruggaan skool toe nie.”

Bokkie Pretorius (60) is sinoniem met Laerskool Delmas – dink aan sport, musiek, skoolgee en ’n grappie altyd byderhand, dan weet jy meneer Bokkie is daar.

Dit is wat was, want Bokkie het op 24 Junie na 33 jaar vir die laaste keer as onderwyser by die hekke van Laerskool Delmas uitgestap.

Bokkie het sy lewe aan die onderwys gewy, waarvan 33 jaar in diens van Laerskool Delmas, maar was vir 38 jaar in totaal in die onderwys.

Hy het opgegroei in die klein dorpie Roedtan en het hy sy matriek in 1981 by Hoërskool Piet Potgieter op Potgietersrus in Limpopo voltooi.

Na skool het hy by die destydse Goudstad Onderwyskollege gaan studeer. Hier het Bokkie ook sy vrou, Marinda ontmoet.

Die twee onderwysers het die knoop in 1988 deurgehaak. Uit die huwelik is twee dogters Deoné en Mandi gebore. Beide is getroud en Bokkie en Marinda is geseënd met twee pragtige kleinseuns, Mardio en Lucca.


‘Meneer Bokkie’ as afgetrede onderwyser by sy huis op Delmas.

Bokkie het vertel sy onderwysloopbaan het aan die Oos-Rand afgeskop, maar hy het reeds in 1990 voet aan wal by Laerskool Delmas gesit.

Daar het hy in die senior grade met vakke natuurwetenskap en ekonomiese bestuurswetenskap as hoofvakke klasgegee. Bokkie het ook by die laerskool koshuis diens gedoen en was sinoniem met sport soos rugby, krieket en atletiek.

“Dit is soms vreemd as jy ’n veertigjarige pa of ma langs die sportveld of in die dorp raakloop en jy besef jy het vir die ouers op laerskool skoolgegee, terwyl die kleingoed aan hul sy, nou in jou klas sit.

“Dit is kosbare herinneringe, want jy word ook steeds as meneer Bokkie aangespreek.”

As hoogtepunte in sy loopbaan brei Bokkie met groot trots uit oor sy krieket- en rugbyspanne wat groot welslae gedurende die jare 2003 tot 2006 bereik het.

Bokkie het ook altyd vir die vermaak met musiek langs die sportvelde van die Laerskool gesorg. Hy het ook gereeld by troues en ander funksies die vermaak behartig.


LEES OOK: Mother wants municipality to maintain Trichardt Cemetery


Op ’n vraag aan Bokkie oor waar sy liefde vir musiek vandaan kom, het hy geantwoord, “Ons twee dogters het vanaf ’n baie jong ouderdom af modelwerk gedoen. So het dit dan gekom dat hy aangebied het om by die modelskool begeleidende musiek te voorsien.

“Die gogga het gebyt en die res is geskiedenis. Dit is vir my ’n passie en baie lekker om vir mense musiek te maak.”

Bokkie is nou op pensioen en Streeknuus het hom gevra wat lê nou vir die Pretorius-egpaar as afgetrede onderwysers voor.

Volgens Bokkie is die eerste op hul prioriteitslys om vir hul kinders en twee kleinseuns in Nieu-Seeland te gaan kuier. Hulle het gedurende 2022 ge-emigreer en die gemis is groot.

“Ons is besig met ons visas en beplan om vir drie maande vir die kinders te gaan kuier.”

Beide Bokkie en Marinda vertel van die groot gemis na hul kinders en twee kleinseuns en die opgewondenheid om hul weer te sien is duidelik by oupa en ouma.

“Dit is een van die voordele van op ’n vliegtuig klim en vir drie maande gaan kuier.”

Ander planne is daar nie regtig op die oomblik nie en volgens Bokkie glo hy dat die werklikheid van aftrede hom dalk eers op ’n latere stadium sal tref.

“Tans is dit is elk geval skoolvakansie, maar ek glo dit gaan vreemd voel wanneer die skole heropen en ek besef dat ek nie moet teruggaan skool toe nie.”

Volgens Bokkie het hy ook aangebied om steeds, as hy benodig word, die skoolbus na sport- en ander geleenthede te ry.

Meneer Bokkie is nou afgetree, maar die gemeenskap van Delmas glo dat sy musiek en sy spitsvondige grappies na alle waarskynlikheid weer op die sportvelde van Laerskool Delmas gehoor gaan word, maar eers moet twee kleinkinders in Nieu-Seeland elk ’n stywe drukkie van oupa en ouma Pretorius kry.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button