Local newsStreeknuus

Kolletjiekuns, woudpapegaaie en bome op agenda tydens VLU vergadering op Delmas

Terblanche het haarbelangstelling in voëls met die vroue gedeel, onder andere die voël van die jaar, naamlik die woudpapegaai met die wetenskaplike naam van Poicephalus Robustus.

Soos dit die gedugte span vroue van die Vrouelandbou-unie se Delmas tak betaam, was die Junie vergadering weer vol van interessante onderwerpe.

Die vergadering het op 20 Junie in die saal van die Hervormde Kerk op Delmas plaasgevind.

Die voorsitter, Marié Terblanche het almal verwelkom en ‘n spesiale verwelkoming het aan gaste, Celia van Wyk en Elna Kruger gegaan.

Die sameroepster, Ina Troskie was hierna aan die beurt. Die tak se finansiële verslag was deur Belinda Duvenhage voorgehou en Magriet Swart het die skakelverslag gelewer.

Die gasvroue wat vir innerlike versterkings gesorg het, was die susters, Jané Oosterhuis en Margaret Bezuidenhout.


Elna Kruger kuier saam met die VLU se Delmas-tak.

Besprekingspunte het ingesluit ’n boomplant- en ’n uitskoppantoffel projek.

Terblanche het haar besonderse belangstelling in voëls met die vroue gedeel, onder andere die voël van die jaar, naamlik die woudpapegaai met die wetenskaplike naam van Poicephalus Robustus.

Die papegaai met sy groen lyf, goue kop en nek staan ook bekend as die heldergroen en goue juweel van die woud, soos deur BirdLife Suid-Afrika aangekondig.

Die woudpapegaai simboliseer hoop en veerkragtigheid.

Volgens Terblanche is die voël, hoofsaaklik as gevolg van grootskaalse ontbossing, as bedreigde spesie geklassifiseer en is daar na raming ’n oorblywende bevolking van minder as 1 800.

“Dit is endemies aan Suid-Afrika, is lawaaierig, soek kos in die eerste en laaste ure van die dag en broei afsonderlik met hul neste gewoonlik in geelhoutbome.


LEES OOK: Klein Lydia van Secunda sterk goed aan na beenmurginplanting


Die papegaaispesie word op hul eie, in pare, maar ook in familiegroepe na aan hul slaapplekke, veral teen dagbreek en skemer opgemerk.

Terblanche het die vroue se kennis verder verryk deur hul mee te deel dat die meeste Suid-Afrikaners onbewus daarvan is dat ons land ’n endemiese papegaaispesie het nie.

“Hulle voorkeurhabitat, wat newelstreke is, word swak beskerm.

“Hierdie mistige woude is belangrik vir ons fauna en flora, maar ook vir wateropvangsbeskerming en koolstofopvanging- en berging,” het Terblanche gesê.

Met die vroue se kennis verbreed oor die woudpapegaai, was dit tyd vir Elsie Bredenkamp om die mini-skouartikels te bespreek.


Marié Terblanche demonstreer kollietjiekuns aan die lede van Delmas se VLU-tak.

Hierna was Terblanche weer aan die woord met haar aanbieding van die kollietjiekunsklas.

Die korrekte verfkeuses, toerusting en tegniek van kolletjiekuns was in diepte aan die lede verduidelik.

“Ons kon weer eens met nuwe inspirasie huiswaarts keer. Vriendskapsbande was opnuut gesmee en saam kon ons leer en ontwikkel,” het Swart gesê.

“Of dit nou warm of ysig koud is ons VLU-harte klop warm vir die groter doel – om op ’n gesellige manier ’n hoë kwaliteit lewe te geniet,” het Swart afgesluit.

Vroue wat belangstel om deel van Delmas se VLU-tak te word, kan vir Marié Terblanche by 083 968 2203 skakel.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button