Local news

Bethal-gesin verloor alles toe hul huis brand

Die inwoners en troeteldiere is ongedeerd.

‘n Brand by ‘n huis in Naudéstraat op Bethal op 4 Julie het ‘n gesin haweloos gelaat.

Volgens Antoinette Coetser, een van die inwoners, het die brand omstreeks 08:30 uitgebreek, kort nadat die krag weer aangekom het na beurtkrag.

Die brand het in die lapa ontstaan. Die grasdak het begin brand en die vuur het na die res van die huis versprei.

Daar het ses volwassenes en twee kinders van 4 en 16 jaar oud in dié huis gewoon. Almal was tuis toe die brand uitgebreek het, behalwe die 16-jarige dogter wat by familie gekuier het.


Die inwoners van dié huis het alles verloor toe die huis wat hulle gehuur het op 4 Julie gebrand het.

“Ek het nog in die bed gelê toe ek Lezanne hoor roep na haar ma en sy het benoud geklink,” het Coetser vertel.

“Toe hoor ek sy skreeu brand en ek het opgestaan en gaan kyk.”

Een van die ander inwoners, Sally van der Westhuizen, het met die tuinslang die brand probeer doodspuit.

Die ander lede van die gesin het intussen die brandweer geskakel, maar toe hulle na ‘n halfuur by die huis opdaag, het boere van die omgewing reeds die gesin te hulp gesnel en die brand geblus.


Die inwoners van dié huis het alles verloor toe die huis wat hulle gehuur het op 4 Julie gebrand het.

“Iemand het die boere wat watertenks agter op hul bakkies het, geskakel en hulle was vinnig op die toneel om te kom help,” het Coetser gesê.

Die meeste vertrekke in die huis was egter reeds afgebrand. Hulle kon net twee slaapkamers red. Hulle kon darem hul vier honde betyds uit die brandende huis kry.

Al die inwoners van die huis woon tans by ander familielede op ‘n plaas tussen Bethal en Trichardt.

Assessore was reeds by die huis om die skade vas te stel, maar die gesin het geen versekering vir hul huisinhoud gehad nie. Hulle het alles verloor.


LEES OOK: Uproar over locked toilets at SAPS in eMbalenhle


Vier van die vroue wat in die huis gebly het, leen tans klere by ander familielede. Die gesin kort egter nou meubels, beddens, kombuisinhoud, klere, beddegoed en komberse.

Twee lede van die gesin is op ongeskikheidspensioen, twee ander het onlangs hul eie onderneming begin en die ander twee volwassenes soek tans werk.

Anelda Postma, voorsitter van die Vryheidsfront Plus se Bethal-tak en die gemeenskap het reeds ingespring om te probeer om huisinhoud vir die gesin bymekaar te maak.

Vir meer inligting, of as jy kan help, skakel Postma by 076 756 7435 of Lezanne van der Westhuizen by 079 046 6424.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button