Kosmos Aftree-oord neem afskeid van dr. Lyons en matrone
Dr. Lyons en Sanpat Coetzee het die bul by die horings gepak en tesame die oord se bestuur oorgeneem, alvorens Coetzee amptelik as bestuurder aangestel is.
Kosmos Aftreeoord het op 27 Junie van dr Mollie Lyons en matrone Annetjie Steyn afskeid geneem. Lyons het bedank as direksielid om verdere studies te onderneem.
Sy praktiseer tans as bedryfsielkundige op die dorp en het ’n beurs van Liverpool Universiteit gekry om haar MSc-graad in sielkunde te voltooi.
Lyons en Sanpat Coetzee het die bul by die horings gepak en tesame die oord se bestuur oorgeneem, alvorens Coetzee amptelik as bestuurder aangestel is.
Tim Cochrane het Lyons namens die inwoners bedank en haar empatie uitgesonder, sowel as haar leiding en bekwaamheid.
Sy is voorspoed vir die toekoms toegewens. Coetzee het in haar spreekbeurt verwys na ’n tydperk van 43 jaar waar haar paaie weer met Lyons gekruis het.

Lyons was ’n student aan die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit en Coetzee werksaam as sportdirekteur.
“Jy is waardevol vir die oord,” het die bestuurder gesê.
Sy het haar vir die strategiese leiding bedank en dat sy ’n klankbord vir haar was.
“Dankie vir die onbaatsugtige vrywillige diens.”
Steyn gaan haar eggenoot, Jan-Jan teen die einde van Junie op die plaas bystaan.
Cochrane het haar bydrae tydens Covid-19 uitgesonder, waartydens sy die inwoners met die grendeltydperk na Barberton Hospitaal vergesel het.

Hy het haar as ’n Florence Nightingale beskryf, ’n beskrywing wat ook deur meeste van die inwoners gedeel word.
Sy is ook alles van die beste vir die toekoms toegewens en herinner om te kom kuier.
Coetzee het gesê die matrone is met die hand uitgesoek en 1 245 dae later word afskeid van haar geneem.
“Haar fokus was op die inwoners, die gemeenskap, kerk en familie wat haar as mens-mens definieer. Dit is al waaroor dit vir haar gaan,” het die bestuurder bygevoeg.
“Jy is deel van ons en sal vir altyd deel van ons bly.”
Steyn se gemoed het aanvanklik volgeskiet tydens haar spreekbeurt en sy het die direksie, bestuur, kombuispersoneel en verpleegpersoneel bedank.
Sy het Joey Swart uitgesonder wat tydens die pandemie ’n kamer met haar gedeel het.

Nieteenstaande die twee vroue se slaappatrone wat aansienlik verskil, is die wa deur die drif getrek.
“Joey, jy is ’n vrou op wie mens kan staatmaak,” het Steyn gesê.
“n Mens kan saam met jou oorlog toe gaan.”
Die matrone het ook vir Coetzee bedank en verwys na die afgelope tyd waar sy baie van haar geleer het.
“As ons nie vir Mollie en Sanpat gehad het nie, was ons nie vandag hier nie. Die personeel kan die inwoners aan Sanpat toevertrou,” het sy gesê.
Louisa Visagie is ook vir haar vrywillige diens aan die oord uitgesonder. Ter afsluiting het die matrone haar dankbaarheid vir al die liefde wat sy ontvang het, uitgespreek.
Inwoners en besoekers het in die sitkamer by die tehuis byeengekom, waar geen moeite ontsien was nie.
Verskillende soorte sop, toebroodjies en sjerrie was beskikbaar, met die koppies wat vir koffie gereedgestaan het.






