Trompop botsing eis drie by Delmas
Al drie mans in die VW Jetta is op die toneel dood verklaar.
’n Trompop botsing het op 9 Julie op die R42 in die omgewing van die Botleng Winkelsentrum op Delmas plaasgevind.
Met die polisie se aankoms op die toneel het hulle die wrakke van ’n wit VW Jetta sowel as ’n silwer BMW gevind.
Al drie mans in die VW Jetta is op die toneel dood verklaar.
“Met ons aankoms op die toneel was dit duidelik dat die bestuurder van die BMW in ’n ernstige toestand was,” het Martin Barnard, provinsiale verkeersbeampte, Streeknuus meegedeel.
Die ernstig beseerde bestuurder is as Michael Mosae geïdentifiseer. Mosae is per ambulans na die Bernice Samuel Hospitaal gehaas.
Volgens betroubare bronne op die toneel het dit geblyk dat spoed en moontlike oormatige alkoholverbruik moontlik tot die ongeluk aanleiding kon gee.
Mosae kon glo verduidelik dat hy beheer oor die BMW verloor het. Alle nooddienste was op die toneel en die oorsaak van die ongeluk vorm deel van ’n polisie-ondersoek.




