KragDag 2023 ekspo bring hoop en hope pret vir almal
In ’n neutedop was KragDag 2023 groot, leersaam, uniek en gevul met alternatiewe oplossings vir dag-tot-dag krag- en watervoorsieningsprobleme sowel as pret en plesier vir oud en jonk.
KragDag 2023 was weer vanjaar by die Diamantvallei Landgoed, buite Rayton aangebied. Die ekspo het vanjaar oor vier dae, vanaf 9 tot 13 Augustus gestrek en het iets vir elkeen ingehou.
KragDag 2023 was groot, leersaam, uniek en gevul met alternatiewe oplossings vir dag-tot-dag krag- en watervoorsieningsprobleme sowel as pret en plesier vir oud en jonk.
KragDag is bekend daarvoor dat dit veral daarop gemik is om as uitstalkas vir energie- en ander selfstandigheidsoplossings te dien en vanjaar het weer nie teleurgestel nie.
Daar was ’n wye verskeidenheid uitstallings waaronder sonkragoplossings, watersuiwering- en wateropvangsmoontlikhede, elektriese voertuie vanuit die Nederland en hope meer.

Met toenemende fases van beurtkrag is elke Suid-Afrikaner bewus van die noodsaaklikheid van alternatiewe kragopwekking.
Ernstige waterbeperkings het ook nou deel van die publiek se dag-tot-dag bestaan geword. Hierdie ekspo het hoop gebring met ’n oplossing vir elkeen se unieke behoeftes en omstandighede teen sakpas pryse.
In die raadsaal op die perseel het kenners en bekendes daaglikse interessante paneelbesprekings en lesings aangebied.
Die landbou-uitstalling was vanjaar uitstekend en of besoekers in die mark was vir ’n trekker of implemente, veevoer, veemedisyne, oesbeskerming of voedselproduksie-moontlikhede; ’n oplossings was by vanjaar se ekspo beskikbaar.

Daar was ook byeboere, mampoerstokers, blomkwekers, windpompe, moderne hommeltuigtegnologie, boorgatoplossings en ’n verskeidenheid van eko-vriendelike produkte op uitstalling.
Verskeie opvoedkundige instellings waaronder Solidariteit se Akademia, Aros, die Mooikrans Opleidingsinstituut was teenwoordig om inligting met ouers en voornemende studente te bespreek.
Die Bostu boerboeltelers was by KragDag en het vele harte met hul Armandusreeks honde gewen. Verskillende perde-uitstallers het vertonings in die groot arena gelewer en die ‘meet the minis’ miniatuur ponies het menige kinderharte vinniger laat klop.
Ander vertonings het berede boogskut, 911 Riders against farm attacks, Arabierperde, werkende honde-demonstrasies, karperde, die Inyati-hommeltuig en vele meer gebied.
ALSO CHECK: Veterane van Standerton geniet samesyn om ontbyttafel
Die kunsmark het gewemel met entrepreneur uitstallings en oor ’n groot verskeidenheid van handgemaakte produkte beskik.
Vir die hongeres het menige kostalletjies vanaf pap en kaiings, pannekoek, hamburgers, koedoegeregte tot pizza, aarbeie en room en tuisgemaakte gemmerbier gehad.
As die voete moeg geword het, kon besoekers na aanbiedinge luister wat gewissel het van tradisionele danse, klassieke musiek met Lois Boshoff op die klavier, Wynand t’Hart op die trompet en Kenneth Oxley op die kontrabas en ander sangers vanuit eie bodem.
Vir die avontuurlustige besoekers was daar ook helikopterritte aangebied.












