AfriForum Delmas-tak maak skoon
Rheeder en sy helper, Robert Mahlangu, het terselfdertyd ’n AfriForum-buurtwaglid se veiligheid opgeskerp deur ’n verwaarloosde, vakante kleinhoewe aangrensend aan haar eiendom skoon te maak.
AfriForum se Delmas-tak het in samewerking met lede van die vrywilligersgroep Delmas Herleef, The Wild Bunch MC Revolution Chapter ’n plaaslike motorfietsklub en vrywilligers die ingange na Uitbreiding 4 in die dorp en etlike leë erwe in die gebied getakel en rommel opgetel.
Die skoonmaakaksie het op 12 Augustus om 08:00 afgeskop en sommer vinnig was daar etlike sakke vol vuilgoed, waaronder honderde drankbottels, bymekaar gemaak.
Die skoonmakers het in lekker luim onder mekaar gekuier terwyl die noodsaaklike rommeverwydering plaasgevind het.
Die skoonmaakaksie het onder die wakende oog van die Delmas-tak se ondervoorsitter, Jolene Rheeder, plaasgevind. Dié aksie is van stapel gestuur omdat vullis die dorp onooglik maak en inwoners moedeloos laat voel.
“Dit is tog vreemd om te sien hoe dat inwoners bloot hulle vullis agter hul erwe en op leë erwe stort,” het Jolene gesê.
Die Rheeders se oranje trekker, nou al standaard tydens skoonmaakaksies, was ook weer hard aan die werk met Hennie Rheeder aan die stuur.
Rheeder en sy helper, Robert Mahlangu, het terselfdertyd ’n AfriForum-buurtwaglid se veiligheid opgeskerp deur ’n verwaarloosde, vakante kleinhoewe aangrensend aan haar eiendom skoon te maak. Dit volg nadat sy ’n paar keer lastig geval is deur booswigte wat daar skuiling gesoek het.
“Dit was hartverblydend om te sien hoeveel vrywilligers, insluitend jong kinders, vir die skoonmaakaksie opgedaag het. Aangesien Delmas die titel Dorp van die Jaar vir 2023 onder leiding van die bekwame Delmas Herleef-groep verower het, is dit vir ons ’n groot eer dat lede van dié groep by ons skoonmaakaksie betrokke was,” het Carel Botha, voorsitter van AfriForum se Delmas-tak, gesê.
“Saam is ons sterker en maak ons ’n verskil op ons dorp.”
LEES OOK: Police vacancies invite local job seekers
LEES OOK: SADAG launches free online support group






