Bethal AfriForum-tak voltooi slaggatprojek, help met groente uit tuin
Tak bedank inwoners en ondernemings wat help.
AfriForum se Bethal-tak en die inwoners het op 10 Augustus nòg ’n slaggatprojek voltooi deur slaggate in Tsibitso Sibanyonistraat reg te maak.
AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, Hennie Bekker, het gesê veskeie inwoners het oor die toestand van dié straat gekla en daarom is daar besluit om hierop te fokus.
Inwoners het die teer vir die projek verskaf en AfriForum se Bethal-tak het ook ’n bydrae gelewer. Dié projek se kostes beloop ongeveer R11 000 en hulle het 300 sakkies gebruik.
Bekker bedank die gemeenskap vir hul bydrae asook Mass Hire op Secunda wat ’n kompaksieroller voorsien het en NJP Transport wat ’n 4-ton vragmotor beskikbaar gestel het.

“Hierdie projek is ’n voorbeeld van hoe verskeie organisasies hande neem en ’n verskil kan maak,” het Ingrid Human, voorsitter van AfriForum se Bethal-tak, gesê.
Dié tak het ook uitgereik na ouetehuise op die dorp deur 60kg se spinasie aan die SAVF Silwerjare Ouetehuis te gee. Residentia Palm-Oord Ouetehuis kry die volgende spinasie wat geoes gaan word.
Dié groente kom uit Bethal se gemeenskapsgroentetuin.
LEES OOK: Municipality in Standerton launches compliance inspection of businesses
“Die idee van ’n gemeenskapsgroentetuin, het ontstaan gedurende die Covid-19 pandemie en die doel van die tuin is om die gemeenskap voortdurend van vars groente te voorsien,” het Bekker gesê.
Sedert die projek begin is, kon verskeie organisasies wat die ouetehuise en Bethal se sopkombuis insluit, byna maandeliks daarby baat.
“Gedurende die maande wat daar baie groente is, soos in die somer, skenk ons gereeld groente aan organisasies op dorpe rondom Bethal.
“Dié projek is ’n reuse sukses en ’n bron van kos vir baie organisasies wat sukkel om kop bo water te hou met die huidige ekonomiese omstandighede,” het Bekker gesê.



