Local newsLocal sportStreeknuus

Heidi Kleuterskool se gholfdag lok vele

Die eerste prys het aan Johan en Mariaan Hattingh, Pieter van der Merwe en Adriaan Benadie gegaan.

Die wind het gewaai en met afslaan was dit effe koel, maar dit het nie die spelers by die Heidi Kleuterskool Gholfdag gestuit nie.

Heidi Kleuterskool op Delmas het op 24 Augustus ’n geldinsamelingsdag op die baan van die Delmas Gholfklub aangebied.

Die baan het gewemel van aktiwiteite waar 64 spelers aan die dag deelgeneem het. Volgens Heidi se hoof, Riette Wheller, het die skool onlangs ’n leë erf aangrensend aan die skool bekom.

“Daar was gewik en geweeg, maar die bestuur het besluit om die perseel aan te koop. Heidi groei jaarliks en ons weet dat ’n groter perseel vir die toekoms van onskatbare waarde is,” het Wheller gesê.

Volgens Wheller is die gholfdag aangebied as opening vir die skool se boufonds.


LEES OOK: Phoenix Rugbyklub van Delmas sluit suksesvolle rugbyseisoen af


Wheller bedank elkeen van die deelnemers, die ondersteuners, ondernemings wat die putjies beman het, elkeen wat donasies gegee en elke borg.

“Sonder elkeen van hulle sou die dag nie moontlik gewees het nie.”

Wheller het verder haar dank teenoor die Delmas Gholfklub vir hul hulp en bystand uitgespreek.

“Dankie ook aan my yster-groep mense, my Heidi-span vir al hul harde werk op die dag, maar ook agter die skerms,” het Wheller bygevoeg.

Na afloop van die dag se gholf was die wenners aangewys. Die eerste prys het aan Johan en Mariaan Hattingh, Pieter van der Merwe en Adriaan Benadie gegaan.

Die tweede prys is deur die span van AgriGo gewen en die derde prys is deur Speranza Alpine Projects ingepalm.
Adriaan Benadie het ook spogregte bekom vir die langste dryf van die dag.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button