Delmas-vrou steeds agter tralies nadat sy drie keer oor man ry
Gauche se regsverteenwoordiger het aangedui dat Gauche vir eers haar aansoek om borgtog laat vaar het.
Samantha Gauche (35) wat teregstaan op die moord van Leon Jansen van Rensburg (50), het op 19 Oktober vir die derde keer vlugtig in die Delmas Landdroshof verskyn.
Gauche se regsverteenwoordiger het aangedui dat Gauche vir eers haar aansoek om borgtog laat vaar het. Die rede hiervoor is glo omdat sy steeds nie daarin kon slaag om ’n adres aan die hof te verskaf nie.
Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel en Gauche sal weer op 22 November in die landdroshof op Delmas verskyn.
Volgens inligting was Jansen van Rensburg se vrou, Hettie, kort voor Gauche se borgaansoek weer in die hospitaal opgeneem.

’n Groot groep ondersteuners het egter weer saam met Jansen van Rensburg se dogter, Shenique, die hofverrigtinge bygewoon.
Gauche staan tereg op ’n aanklag van moord nadat sy na bewering op 30 September drie keer oor Jansen van Rensburg gery het. (Streeknuus, 13 Oktober.)
Gauche was voor haar inhegtenisname by die slagoffer, die vermoorde Leon Jansen van Rensburg op sy kleinhoewe op Modderoos Boorde in die Delmas-omgewing woonagtig. Volgens inligting het ’n stryery ontstaan nadat Gauche, Jansen van Rensburg en dié se vrou glo gekuier het.
Gauche het in haar motor geklim om van die kleinhoewe op Moddeboos Boorde weg te ry. Jansen van Rensburg wou keer dat sy ry en het agter haar motor gaan staan.
LEES OOK: Father and son from Secunda take on Red Star Raceway Club Racing
Gauche het na bewering drie keer oor Jansen van Rensburg gery voordat sy van die toneel weggevlug het.
Sy het skaars 1km van die kleinhoewe beheer oor haar voertuig verloor, teen ’n boomstomp langs die pad gebots en van die toneel weggehardloop.
’n Tuinier wat die hele gebeurtenis aanskou het, het egter alarm gemaak en Gauche is in hegtenis geneem.
Jansen van Rensburg is deur nooddienste op die toneel dood verklaar.
Gauche wat tot en met haar laaste verskyning in aanhouding by die Sundra polisieselle, maar is na haar laaste verskyning na die Johannesburg Gevangenis oorgeplaas.





