Local newsStreeknuus

Vierjarige van Delmas stry ’n fel stryd teen kanker

Tuis by die Berg gesin bied pa Albert, ma Tanja, boeties Pedri (15) en Joach (9), sussies Anina (16) en Zanri (11) ondersteuning aan mekaar en aan kleinsus Talitha.

’n Skamele vier jaar oud, maar reeds in ’n fel stryd teen die groot en gevreesde ‘K’ – dit is Talitha Berg, die jongste van vyf kinders van Albert en Tanja Berg van Delmas.

Talitha is op 14 Desember 2021 gediagnoseer met ’n ‘germ cell’ gewas, wat ’n soort ‘yolk sac’ kanker is.

Talitha was maar net twee jaar en vier maande oud toe die skokkende nuus bekend geword het. Volgens ma Tanja was daar op doktersaanbeveling onmiddellik met chemo behandeling begin.

“Die chemo was binneaars toegedien,” het Tanja gesê.

Talitha se blaas het weens die gewas opgedruk en dokters was genoodsaak om ’n kateter in die brose lyfie te plaas. Op 18 Desember dieselfde jaar het sy haar ‘port’ gekry waardeur chemo voortaan toegedien sou word.


Talitha Berg (4) tuis na haar mees onlangse chemoterapie sessies.

Die gewas in Talitha se pelvis was toe reeds 11cm x 4.4cm in afmeting. Daar was egter ook kolletjies van kanker op haar longe sigbaar. Volgens Tanja was haar jongste se kankertelling 1 000.

“Dit is verskriklik abnormaal hoog.”

Meer chemobehandeling het gevolg en teen Maart 2021 het die gewas na 4.4cm gekrimp. ’n Gewas is uit Talitha se stuitjie verwyder en nog meer chemo het gevolg.

“Ons het op 14 Junie 2022 gejubel van vreugde.”

Die kanker in Talitha se longe was skoon en Talitha kon die simboliese klok in die hospitaal lui. Volgens Tanja sou elke kankelyer dié terme verstaan, want dit is baie goeie nuus.


Talitha Berg se hare word afgeskeer nadat dit onlangs weens strawwe chemoterapie begin uitval het.

“Talitha was ‘skoon’, sy was klaar met chemo, of so het ons geglo.”

Opvolg bloedtoetse het egter slegte nuus vir die Berg gesin ingehou.

“Daar was fout, haar telling was weer hoog, êrens het iets weer opgevlam.”

’n Opvolgoperasie het op 1 September gevolg.

“Dit was op die dieselfde plek gedoen, want die dokters wou seker maak dat daar nie moontlik iets agtergebly het nie.”


Kankerlyer Talitha Berg (4) geniet die son en swembad.

Daar was egter niks meer nie, maar tog het Talitha se kankertelling bly opgaan. Nog chemoterapie en bestraling het gevolg en 28 sessies van bestraling het in Januarie vanjaar afgeskop.

“Behalwe vir naweke, was dit bestraling élke dag. Vir ses weke moes ons elke liewe dag vanaf Delmas na Pretoria ry.”

Talitha het op 24 Februarie weer eens die klok gelui – haar bestraling was voltooi. Gedurende Maart het nog chemo gevolg.

“Talitha se Alfa-fetopprotein (FP-2) telling was nou dié van ’n normale mens, dus was Talitha se kanker tegnies gesproke weg.”

Gedurende Augustus was daar weer eens bevestig dat Talitha nie meer kanker het nie en dat sy slegs elke twee maande moes toetse ondergaan en elke ses maande vir opvolg skanderings sou moes gaan.


LEES OOK: AfriForum op Bronkhorstspruit gaan lekkergoed vir Kersfees uitdeel


“Voor dié twee maande het ons egter agtergekom dat iets skort. Talitha het weer op haar tone begin loop en van pyn in haar been en stuitjie gekla.”

Volgens Tanja het Talitha ook weer baie gou moeg geword en haar stoelgang het ook aangedui dat iets wéér skort.

Die nuus was nie goed nie. Die gewas het weer begin groei en ’n volgende operasie het op 20 November gevolg, gevolg deur nog chemoterapiesessies.

“Ons rus nou en wag op goedkeuring van ons mediese fonds vir die prosedure vir brachyterapie wat vir 11 Desember beplan word.”

Tahlita sal dan die heel eerste kind in Suid-Afrika wees wat dié soort lokale bestraling ontvang. Talitha is ’n klein dogtertjie met kanker en haar gesin met baie harsteer, pyn en boonop enorme finansiële uitgawes.


Talitha Berg en ma Tanja skeer pa Albert se hare af.

Ma Tanja moes noodgedwonge haar werk bedank en die medies voorsien nie vir alle uitgawes nie.

“Ander uitgawes soos doeke, reisonkoste en so meer, bring ook baie groot druk op ons finasies mee.”

Tuis by die Berg gesin bied pa Albert, Tanja, boeties Pedri (15) en Joach (9), en sussies Anina (16) en Zanri (11) ondersteuning aan mekaar en aan kleinsus Talitha.

“Talitha se siekte bring baie aanpassings, maar ons gesin staan saam. Boeties en sussies bied baie ondersteuning en hulle is baie beskermend teenoor Talitha, veral Joach.”

Sedert haar laaste chemo moes al Talitha se hare ook afgeskeer word. Albert het die taak op sy skouers geneem.

“Vir nou gaan dit goed met Talitha en geniet sy haar huis en baljaar graag in die swembad.”

Daar is intussen vir Talitha ’n BackaBuddy blad gestig.

“Hulp uit enige oord sal waardeer word.”

Tanja raai die publiek aan om haar Facebookblad, ‘Talitha Berg Support Group’ te besoek. Daarop kan Tahlita se behandeling, vordering en die gesin se dag-tot-dag stryd met kanker gevolg word.

Bankbesonderhede vir enige skenkings is ook daarop aangebring.

“Ons bedank ons vriende, skole, vreemdelinge, Laerskool Delmas en elkeen wat bystand lewer in die vorm van doeke en finansieël. Gebed, liefde en bystand vanuit die gemeenskap hou ons staande.”




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

Related Articles

 
Back to top button