Die Gildenhuys egpaar groet Eloff na 22 jaar
“Ons groet julle met gemengde gevoelens en emosie. Dit is totsiens, maar beslis nie vaarwel nie. Julle bly ons vriende en ons sal julle nooit vergeet nie.”
Oud-skoolhoof, André Gildenhuys en sy vrou Corlia het gedurende Desember Eloff gegroet en ’n nuwe skof van hul lewens in die ooste van Pretoria tegemoet gegaan.
André was sedert 2001 skoolhoof by Laerskool Eloff en het op 31 Januarie 2019 uit die onderwys getree.
Volgens André het hy 40 jaar van sy lewe in die onderwys deurgebring waarvan 18 jaar as skoolhoof was.
André wat in 1954 in Potgietesrus gebore is, het sy matriek in Potgietrsrus verwerf waarna hy sy hoërskool onderwysdiploma geslaag het. Sy onderwysloopbaan het Laerskool Chris Hoffmeyer afgeskop.
Verdere diplomas in jeugweerbaarheid en onderwysbestuur het gevolg asook ’n kursus aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) in berading vir adolossente en jong kinders, afgesluit met ’n kursus in traumaberading.

Uit die Gildenhuys huwelik is drie kinders gebore, Tariesa, Barend en Jana. Groot hartseer het oor die gesin gekom toe Jana in 2012 in ’n motorongeluk oorlede is.
Volgens Corlia het sy ná hul huwelik by die destydse Bantoe onderwys gewerk. Na die kinders se geboortes het sy haar egter op die opvoeding van die kinders toegespits.
Gemeenskapsdiens het vir Corlia na aan die hart gelê en sy was ook aktief by die Impumulelo naaldwerkprojek betrokke.
“Met dié projek het ons die inwoners van Botleng opgelei en bemagtig,” het Corlia gesê.
Sy het ook vroue in Eloff met Bybelstudie en selgroepe bedien. André se grootste passie was maar sy skool en skoolhou.
“So het ons met die hulp van gemeenskap, daarin kon slag om vir Laerskool Eloff ’n saal op te rig.”
Hy was ook aktief betrokke by die kerk en sy gemeenskap. Nadat André in 2019 afgetree het, het hy egter nie gaan stilsit nie, maar was hy steeds aktief betrokke by die kerk en die gemeenskap.
“Ek het ook slaggate gevul, so ongeveer 250, met teer wat hoofsaaklik deur die AfriForum-tak op Delmas voorsien was.”
Op ’n vraag aan André oor hoekom dan die nodigheid vir die verhuising na Pretoria het hy geantwoord, “Ons dogter Tariesa het in Abu Dabi skoolgehou en het kursusse in Singapoer en Amerika bygewoon onder die vaandel van HANDLE (Hollistic Approach to Neuro Development and Learning Efficiency). Tariesa bedryf nou ’n skool in Pretoria en het my hulp daar nodig.”
Aftree is dit dus steeds nie vir André nie en gaan hy steeds sy passie vir die onderwys laat voortleef vir kinders met spesiale leerbehoeftes.

“Ek gaan sekerlik ook maar weer slaggate vul. Ek het klaar met my nuwe buurman daaroor gesels en hy is bereidwillig om hand by te sit. Ek sal net moet kyk wat gebeur of ek ook hier teer kan bekom,” het André met ’n glinster in die oog laat hoor.
Op ’n meer ernsitge noot het André genoem sy grootste wens is die een is wat hy altyd vir die leerders van Laerskool Eloff voorgehou het, naamlik Psalm 34:12: ‘Kom kinders, luister na my. Ek wil julle leer hoe om die Here te dien.’
“Dankie, aan elkeen in Delmas, Eloff en omgewing wat ’n positiewe invloed op ons Gildenhuyse gehad het.
“Ons groet julle met gemengde gevoelens en emosie. Dit is totsiens, maar beslis nie vaarwel nie. Julle bly ons vriende en ons sal julle nooit vergeet nie.
“O ja, julle het nou ’n koffiedrink-plekkie in Pretoria.”




