Local newsStreeknuus

Ons Winkel op Delmas vereer

“Ons Winkel Delmas is trots en dankbaar. Baie dankie vir al ons skenkers en ondersteuners wat dit vir ons moontlik gemaak het.”

Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkel op Delmas het 2023 op ’n besonderse wyse afgesluit.

Hierdie winkel is op 23 November 2023 tydens ’n gala geleentheid by die Sol-Tech kampus in Pretoria vereer toe hulle ’n toekenning vir die beste vordering in die Mpumalanga streek vir 2023 ontvang het.

“Ons Winkel Delmas is trots en dankbaar. Baie dankie vir al ons skenkers en ondersteuners wat dit vir ons moontlik gemaak het,” het Delmas Ons Winkel eienaar, Johan Fourie, laat hoor.

“Ek bedank ook my personeel vir hul harde werk en positiewe insette in die verkryging van die toekenning.”

Volgens Solidariteit spog die Mpumalanga- en KwaZuluNatalstreke tans met sowat 18 winkels.

“Ons salueer elke winkel – daar waar ’n weggooi item omgesit word in ’n waardevolle skat, kos op ’n kind se tafel of skoene aan ’n bejaarde se voete. Geld wat hieruit spruit gee ook jaarliks studiehulp aan meer as 50 studente vanuit die KZN Noorstreek en Mpumalanga, wat dit andersins nie sou kon bekostig nie,” het Ons Winkel in ’n plasing op hul Facebookblad gesê.

“Ons eer die Here vir Ons Winkels, winkeleienaars en hande wat altyd regstaan om te help.”

Mense op Delmas en omgewing wie gedurende Desember en Januarie items uit hul wonings of kaste gegooi het en nou met dit ophande sit, kan Fourie by 082 062 3310 skakel. Die personeel sal dit selfs kan gaan afhaal.

Die Delmas Ons Winkel is in Derdestraat 19 geleë. Die personeel nooi die publiek om te gaan inloer en ook om skenkings te maak.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button