Monument op Delmas kry veilige rusplek
Die Sarel Cilliers Gedenkmonument is nou weer terug in Voortrekker begraafplaas waar dit sy oorsprong as ’n klipstapel gehad het.
Die Sarel Cilliers Gedenkmonument was al wat staande gebly het op die ou skouterrein op Delmas.
Streeknuus het in die uitgawe van 20 Oktober 2023 berig oor die totale vandalisering van die geskiedkundige geboue en feessale op dié terrein net buite Delmas.
Terwyl elke gebou op die terrein onder die hande van vandale verdwyn het, het een baken bly staan – die Sarel Cilliers Gedenkmonument.
Dit moes egter geskuif word om die gedenkwaardigheid daarvan vir die nageslagte te bewaar.

’n Plaaslike boer, Johan Ehlers, het dié groot taak op 21 Desember 2023 aangepak om die monument vanaf die ou skouterrein na ’n veilige staanplek te skuif.
Ook vir Ehlers was dit belangrik dat die monument nie tot niet sal vergaan nie, maar nog vir geslagte behoue sal bly.
Op die dag het ’n onderneming op Delmas weer vrywillig hul hyskrane en mannekrag ingespan om te help met dié astronomiese taak.
Alles het vlot afgeloop en binne etlike ure het die monument trots gepryk in wat deel is van ’n Voortrekker begraafplaas in die omgewing waar die monument oorspronklik sy afkoms as ’n klipstapeling gehad het.

Die klipstapeling was volgens oorlewering gedurende 1938 op Argent, tydens die geskiedkudige Sarel Cilliers gedenk Ossewatrek, gepak. Die terrein op Argent was die oorsprong van die destydse feesterrein vir Delmas.
Tydens die ossewatrek was daar ook by die grafte van onder andere MJ Viljoen en sy eggenote Magdalena, die dogter van Piet Retief kranse gelê. Dit is dié Voortrekker begraafplaas waar die monument nou sy plek van eer gekry het.
Die geskiedenis van die monument vervaag egter hierna, maar daar was skynbaar besluit om die aanvanklike klipstapeling in ’n monument te verenig en was dit na die nuwe feesterrein net buite Delmas geskuif.
Plaatjies wat op die monument aangebring is dui daarop dat die monument aan die Argent feesterrein geskenk was deur JH Viljoen, die kleinseun van Piet Retief.

Die monument was op 16 Desember 1991 na die toe nuwe feesterrein net buite Delmas geskuif en deur Rina van de Vyfer onthul.
Vir Ehlers is die monument nou weer ‘tuis’ en veilig, daar waar dit hoort.
“Ek wil dankie sê vir die manne van Delmas Crane Hire en hul personeel en ander helpers wat op die dag bygestaan het om die skuif moontlik te maak,” het Ehlers gesê.
“Alles het goed afgeloop. Daar was minimale skade en ons bedank in besonder vir Londani Sambo, Urie Long en Andrew Diago van Delmas Crane Hire vir die professionele wyse waarop hulle die kraan bedryf en die monument help skuif het,” het Ehlers afgesluit.









