Oud-kapelaan van Secunda deel sy mening oor geslagsgeweld
Ds. Johan Smit het al vreemde dinge gesien tydens sy 41 jaar-loopbaan in die polisiediens.
Oud-kapelaan en kaptein van die polisie, ds. Johan Smit, gee sy mening oor geslagsgeweld op dag 14 van die 16 Dae van Aktivisme teen G,eslagsgeweld.
Die Ridge Times en Famsa neem saam deel aan ’n bewusmakingsveldtog oor dié onderwerp.
Smit het in sy 41 jaar in die polisie al baie dinge gesien en beleef.
Hy is sedert 1979 in die polisie en het vir 10 jaar voordat hy afgetree het, as kapelaan gedien.
Hy is nou steeds in die bediening en preek by verskeie gemeentes op verskillende dorpe as hy genader word.
Smit meen geweld is prominent op Secunda en in Suid-Afrika as geheel.
“Jare gelede het ons ons jong ouens oorlog toe gestuur, so hulle het van jongs af geweld gesien,” het Smit gesê.
Hy onthou ’n geval op eMbalenhle in sy jare by die polisie waar ’n man inligting oor veediefstal vir die polisie gegee het.
“Toe die diewe uitgevind het wie die inligting gegee het, het hulle daardie man, sy vrou en sy vyf kinders op die halssnoer-manier doodgemaak.”
Die halssnoer-manier is wanneer ’n motor-buiteband wat met brandstof deurdrenk is om iemand se nek gehang word en aan die brand gesteek word.
“Ek het by daardie toneel gestaan en huil, dit was verskriklik,” het Smit vertel.
“In ’n land soos Suid-Afrika, leer ons kinders al van kleins af hoe om geweldadig te wees omdat hulle dit sien orals om hulle.”
Op die vraag of Smit al eerstehands geweld ondervind het, het hy vertel van sy broer, Bruwer Smit, ook ’n polisielid, wat in 2012 in Pretoria voor sy 10-jarige seun doodgeskiet is.
Die diewe het met sy bergfiets en tekkies gevlug.
“Ek moes my broer toe gaan uitken en ek het sy kinders grootgemaak.”
Smit se antwoord op die vraag oor hoe ’n mens geweld verhoed voordat dit gebeur, is dat ’n mens van jongs af moet begin met die kinders, net na geboorte.
“Ek het dit gesien toe ek nog in die polisie was as ons misdaadvoorkoming gedoen het, as die kind eers sewe jaar of ouer is, kan jy hom nie sommer verander nie.
“Dit is goed as mens die kinders by die kleuterskole al kan leer van misdaad en geweld.
“Die hele gemeenskap, skole en kerke moet betrokke wees by dié proses.”
Smit glo nie kriminele soos reeksverkragters of reeksmoordenaars word so gebore nie, hy glo iets loop verkeerd in hul lewens wat hulle tot dié dade laat oorgaan.
Hy meen om stelselmatig die statistiek dat een uit elke drie vroue een keer in hul lewens geweld ondervind, te verander, moet ‘n mens weer eens teruggaan na opvoeding.
“Ons het al gevalle gehad waar die vrou se man haar slaan, dan gaan help ons haar en wil hom in hegtenis neem, maar dan wil sy ons slaan met gebreekte bottels van agter af.
“Ek dink hoe ’n mens grootword en wat in jou ouerhuis aangaan, speel ’n groot rol.
“In my jare in die polisie het ons al meer ‘ma slaan vir pa’-klagtes hanteer as ‘pa slaan vir ma’-klagtes,” het Smit vertel.
Hy het slagoffers van geweld en misdaad aangemoedig om daaroor te praat en op te hou om skaam te wees.
Sy boodskap van hoop en raad aan vroue wat deur geslagsgeweld geraak word, is dat as hulle deur pyn en lyding gaan, dit nie noodwendig die einde van hul lewe is nie.
Hy het die skrifgedeelte in Prediker 7:8 wat lui: ‘Die einde van ’n saak is beter as sy begin; ’n langkmoedige is beter as ’n hoogmoedige.’ aangehaal.
“Jou lewe is nie verby nie, ’n mens kan jou lewe omdraai en beter aan die anderkant uitstap.”
Smit se eie lewe is ’n sprekende voorbeeld hiervan.
Hy het, voordat hy tot bekering gekom het, tussen 70 en 90 sigarette daagliks gerook.
“Ek was ’n rowwe ou en toe in 1995 het die Here vir my gesê ek moet Sy woord gaan verkondig.”
Smit het egter eers in 2005, toe die Here vir hom gesê het hy moet gaan studeer en hy geantwoord het dat hy nie geld het nie, opgehou rook.
“Die Here het toe vir my gesê hou op rook en gebruik daardie geld om te studeer.
“’n Mens moet bereid wees om iets op te gee vir die Here.”
Hy het slagoffers en oorwinnaars van geweld aangemoedig om betrokke te raak by ’n kerk en ’n goeie ondersteuningsnetwerk te kry.
“Wie bel jy as dinge sleg gaan of as jy probleme het?
“Jy moet mense in jou lewe hê wat jou ondersteun en na wie jy kan draai vir hulp,” het Smit afgesluit.