Local news

Afgetree, maar houtwerk hou AfriForum se voorsitter op Secunda besig

Jan du Plessis gaan voort met goeie werk op die dorp.

Jan du Plessis (63), voorsitter van die AfriForum Secunda-tak, het aan die einde van Oktober by Sasol afgetree.

Du Plessis het jare gelede as passer by Sasol begin werk en toe eers Secunda verruil vir die buiteland.

Hy het in verskeie lande wat Namibië, Botswana, Angola, Swaziland en Saoedi-Arabië insluit, kontrakwerk gedoen.

Du Plessis het homself in 2009 weer op Secunda kom vestig nadat Sasol hom genader het om terug te keer.

Hy was werksaam by die gasturbine-aanleg en het dit gehelp bou voordat hy in ’n administratiewe pos by Sasol begin werk het omdat hy gehoorprobleme ontwikkel het.

Du Plessis sit egter nie stil sedert sy aftrede nie.

Hy is steeds nouliks by AfriForum betrokke sedert hy in 2014 by hulle Secunda-tak aangesluit het.

Hy het later die stoel as voorsitter begin volsit en het ook intussen sy lisensie as hommeltuigvlieënier gekry.

AfriForum se hommeltuig word gereeld ingespan om te help om kriminele te soek.

“Die sekuriteitsondernemings op die dorp skakel my so nou en dan om hulle te help soek met die hommeltuig,” het Du Plessis vertel.

Hy het al saam met die polisie ook gewerk en die hommeltuig gebruik om te help soek.

As hy hom nie besig hou met AfriForum se werk of vergaderings of help as AfriForum die gras sny en groenstroke skoonmaak nie, hou Du Plessis homself besig met houtwerk.

Hy het sowat vyf jaar terug houtwerk as ’n stokperdjie begin beoefen.

“Ek het eers tafeltjies gemaak en algemene houtwerk gedoen,” het Du Plessis gesê.

“Ek het met dit begin om myself besig te hou en toe koop ek vir my ’n draaibalk. Ek het uit nuuskierigheid penne begin maak omdat ek wou sien wat die draaibalk alles kan doen.

“Later het ek vir my ’n masjien wat laser-drukwerk kan doen, ook gekoop en nou gaan ek groot.”

Deesdae maak Du Plessis penne vanuit hout asook houers vir die penne, geskenkhouers met ’n persoonlike boodskap of naam of datum op, houers vir wynbottels en glase en hy doen graveerwerk op glase.

Hy stal gereeld by vlooimarkte in die omgewing uit.

Volgens Du Plessis sal die AfriForum Secunda-tak voortgaan met die werk wat hulle reeds doen en help om die dorp skoon te hou.

Hy beplan ook om ’n tweede buurtspan te stig wat dan ’n wyer gebied kan dek om inwoners van Secunda veilig te hou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Jana Oosthuizen

I have been working for the Ridge Times newspaper for 15 years. I worked in a few other fields before starting to work for the newspaper in October 2009. I have a diploma in Journalism and the areas where I cover news include Secunda, Bethal, Trichardt, Evander, Leandra and Kinross.

Related Articles

Back to top button