Dogtertjie met gebreekte arm kort dringend operasie op Trichardt
Die koste van die eerste operasie beloop sowat R100 000.
Limike van den Berg (1) se ouers, Stephanie en Jean, samel tans geld in vir haar operasie. Limike, een van ’n tweeling, het verlede jaar haar arm gebreek en haar ouers het nie ’n mediese fonds nie.
Hulle sal dus kontant vir die operasie en hospitaalverblyf moet betaal. Van den Berg het nie dadelik agtergekom dat haar peuter se armpie gebreek is nie.
“Dit was haar boetie se verjaardag op 21 Desember en hy wou iJump toe om dit te vier,” het Van den Berg vertel.
“Ek het gesien Limike spring, maar sy druk nie op haar een armpie nie. Ek het gedink sy het dalk net haar gewrig seergemaak en ’n verband opgesit.

“Daardie aand, toe sy op my skoot aan die slaap raak, kon ek sien haar armpie is nog steeds seer en sy het ‘eina’ gesê toe ek daaraan vat.
“Die volgende oggend was haar armpie baie blou en ons het haar dokter toe geneem.”
Nadat die dokter X-strale laat neem het, het hy gesê Limike se arm is gebreek. Hy het vir haar gips aangesit wat sy vir twee weke moes dra in die hoop dat die arm sou aangroei, maar twee weke later het dit nog nie herstel nie.
Sy het toe vir ses weke ’n spesiale armstut gedra, maar die arm het steeds nie aangegroei nie. Omdat sy nog so jonk is, sal sy twee operasies moet ondergaan.
Tydens die eerste operasie sal penne en skroewe ingesit word, maar dit sal oor ’n paar jaar weer verwyder moet word omdat dit nie saam met haar bene kan groei nie.
LEES OOK: Kinross loses clean water during crisis
Die koste van die eerste operasie beloop sowat R100 000 en die egpaar wil dit by Mediclinic Trichardt laat doen. Hulle woon in Gauteng, maar Limike se ouma en oupa woon in Secunda en sy kom gereeld daar kuier.
“Dit is net makliker vir ons om dit in Trichardt te laat doen,” het Van den Berg gesê.
Sy werk as naeltegnikus en werwer vir ’n personeelagentskap en doen ook digitale bemarking om die pot aan die kook te hou, terwyl Jean in die inligtingstegnologiebedryf werk.
Enigiemand wat vir Limike wil help of ondersteun, kan Van den Berg by 071 382 2542 skakel.




