Secunda sakeman word skuldig bevind 10 jaar ná moord in Durban
Die hooggeregshof in Durban het 21 tot 23 September geoormerk vir vonnisoplegging.
Plaaslike sakeman, Hennie van Rooyen (54) is vir die volgende paar maande nog op vrye voet nadat hy op 2 April in die hooggeregshof in Durban aan moord skuldig bevind is.
Die onmiddellike betaling van R50 000 bortog deur sy vrou wat die hofverrigtinge bygewoon het, het vir eers verseker dat Van Rooyen nog nie toegesluit is nie.
Die Ridge Times het in 2017 en 2019 berig oor Van Rooyen wat toe reeds in die hof verskyn het vir die moord.
Regter Priscilla Maharaj het in haar uitspraak op 2 April gesê Van Rooyen is skuldig aan moord met voorbedagte rade op sy eertydse minnaar, Jan Johannes (Hannes) Craemer.
Volgens haar het Van Rooyen beplan om Craemer op 30 November 2015 in ‘n hotelkamer by die Durban Spa hotel dood te skiet.
ALSO READ: Secunda businessman appears in court for murder of former colleague
In die verloop van die verhoor het die hof gehoor die twee getroude mans het in 2012, toe hulle saamgewerk het by die Van Vreden Paneelkloppers op Tzaneen, ‘n romantiese verhouding aangekoop.
Die verhouding het aangehou selfs nadat Craemer met sy vrou en kinders na Durban verhuis het.
Hoewel Van Rooyen glo op ‘n stadium oorweeg het om sy vrou te verlaat, het die egpaar egter versoen en hy wou die verhouding met Craemer geheim hou. Craemer, daarenteen, wou die verhouding openbaar maak.
Van Rooyen het die dag van die moord vanaf Secunda na Durban gereis onder die voorwendsel dat hy geld aan Craemer sou gee.
Hy het by die Durban Spa onder ‘n vals naam ingeboek, en vir twee nagte bespreek hoewel hy die hotelkamer slegs vir een dag gebruik het.

Die hof het ook gehoor Van Rooyen het ‘n gelaaide vuurwapen onder ‘n kussing in die kamer geplaas.
Ná hulle by ‘n nabygeleë restaurant ontmoet het, het die mans na die hotelkamer gegaan waar Van Rooyen vir Craemer twee keer van naby geskiet het.
Hy het hierna ‘n ‘Do not Disturb’ bordjie op die deur van die hotelkamer aangebring en toe gevlug, maar op pad terug na Secunda het sy motor met ‘n vragmotor gebots en was hy ernstig beseer.
Sy geregistreerde vuurwapen is op die ongelukstoneel opgetel en by die polisie ingedien. Dit is later met Craemer se moord verbind.
Craemer se vrou Jackie, het intussen onraad begin vermoed toe hy ná werk nie by die huis opgedaag het nie. Sy het hom later as vermis aangemeld.
Die aanklaer, advokaat Vasi Chetty het aan Ridge Times vertel dat ‘n hotel-personneellid Jackie se Facebook-inskrywing gesien het en vir Craemer as ‘n gas by die hotel herken het.
ALSO READ: #CraemerMurder: Murder trial begins almost four years after young man is shot in head
Craemer se liggaam is op 3 Desember 2015 in die hotelkamer gevind met skietwonde in die gesig en in die nek.
Die hof het op kringtelevisie-beeldmateriaal gesien hoe die twee mans saam by die hotel opgedaag het en hoe Van Rooyen later die aand alleen daar weg is.
Van Rooyen het onskuldig gepleit op aanklagte van moord en bedrog en het ‘n verdediging van nie-patologiese kriminele ontoerekeningsvatbaarheid geopper.
Sy verdedigingspan het aangevoer dat hy onder geweldige emosionele druk was.
Die hof het hierdie argumente verwerp.

Van Rooyen is egter steeds verlengde borgtog toegestaan totdat hy vir vonnisoplegging in die hof moet verskyn.
Craemer se vrou, Jackie, het verlede week aan Ridge Times vertel sy en haar kinders het die afgelope 10 jaar bitter swaar gekry.
“Hennie het met sy lewe aangegaan en selfs weer ‘n sakeonderneming begin terwyl my kinders sonder ‘n pa moes grootword.”
Sy is dankbaar dat geregtigheid geseëvier het met Van Rooyen se skuldig bevinding en dat die saak nou na ‘n einde toe staan.
Die hof het 21 tot 23 September bespreek om ondermeer die slagofferimpakverslae, sielkundige verslae en korrektiewe voorstelle aan te hoor en dan ‘n gepaste vonnis op te lê.
ALSO CHECK: Emergency services respond to peak hour accidents
ALSO CHECK: Polisie sê seun wat op Val doodgeskok is, wou glo sien wat in die vragshouer was



