Dit is min mense wat tot op die ouderdom van 80 nog kan of wil werk. Thea Barnard van Standerton, het op 12 Mei, toe sy 80 geword het, uiteindelik afgetree.
“My baas het gesê ek moet nou aftree,” het Barnard vertel.
Sy het haar werk so baie geniet dat as dit van haar afgehang het, sou sy steeds gewerk het.
“As hulle my môre bel en sê hulle het my nodig, sal ek gaan help.”
Barnard het vir die afgelope 14 jaar by Oasis Water op Standerton gewerk en sy het gesê dit was vir haar swaar om afskeid te neem.
Sy het agter die kasregister gewerk en het dit geniet om daagliks met mense te werk.
“Dit was vir my lekker om al die kliënte te ontmoet, met hulle te kon gesels en drukkies te kry,” het Barnard vertel.
“Op ’n besige dag het hier tot 109 oor ons deur se drumpel gestap en hulle almal was altyd nommer een vir my.”
Barnard is op Hankey in die Oos-Kaap gebore en het, toe sy ses jaar oud was, saam met haar ouers na Port Elizabeth verhuis.
Sy het na skool, haar man, Jannie Barnard, op Humansdorp ontmoet waar die twee later getroud is en hulself gevestig het.
Die egpaar was 54 jaar getroud totdat Jannie sowat vyf jaar terug aan emfiseem dood is.
Jannie se werk as posmeester, het vereis dat die gesin gereeld mos rondtrek en hulle het al op Port Elizabeth, Cradock, Ogies,Piet Retief en uiteindelik op Standerton gewoon.
Drie dogters is uit die huwelik gebore en Barnard woon tans by haar jongste dogter, Suretha Minnaar op Standerton.
LEES OOK: Walters-Gerout and Gray claim Sasol bowls women’s pairs title in Secunda
Haar ander twee dogters en vier kleinkinders woon op Hartenbos en in Pretoria.
Barnard was, tydens haar drie dogters se grootwordjare, ’n tuisbly-ma, maar het begin werk nadat haar jongste dogter gematrikuleer het.
Haar geloof is vir haar belangrik en noudat sy heeldag by die huis is, wil sy graag die Bybel van begin tot einde deurlees.
Sy gebruik ’n vergrootglas om die letters duidelik te kan sien en is tans besig om Genesis deur te lees.
Barnard doen self al die skoonmaakwerk in haar huis en huiwer nie om op 80 nog ’n besem te gryp en die stoep skoon te vee nie.
“Ek voel nog sterk en wil dit nog self doen, ek kry net somtyds ’n pyn in my knieg.”
Buiten die hartpil wat Barnard daagliks drink, is sy nog perdfris en gesond.
“Sy het as kind rumatiekkoors gehad en toe het die dokters ontdek sy het ’n lekkende hart,” het Minnaar vertel.
“Dokters het toe gesê sy sou nooit ouer as ’n sekere ouderdom word, of kinders hê nie en nou is sy al 80.”
Barnard het ’n hartpil daagliks begin drink nadat sy een dag by die werk inmekaar gesak het weens haar hart.
Die belangrike lewenslesse wat Barnard al geleer het en altyd sal onthou, is om naby aan God te bly leef en nooit moed op te gee nie.
“Ons is al deur moeilike tye, finansieël, maar die Here het ons steeds gedra al die jare. Dit is belangrik as ’n mens wakker word in die oggende, om eers tyd met Hom te bestee.”
As Barnard nie Bybel lees nie, werkskaf sy in die tuin of verf potte vir potplante, of maak huis skoon en wanner sy kan bestee sy graag tyd met haar kinders en kleinkinders.



