Eienaar van Val Hotel is op soek na die Watervallers se nasate
'n Monument om die Waterval Konferensie van 1901 te gedenk, gaan op 10 April tydens die volgende Boer en Brit-dag onthul word.
Die Val-omgewing is bekend vir sy plase en geskiedenis. Die jaarlikse Boer en Brit-dag met die herdenking van die Whiskey-trein is al ‘n instelling by geskiedenis-liefhebbers, besoekers van oraloor en plaaslike inwoners.
Nou pak Rita Britz, die eienaar van Val Hotel en gasvrou van die Boer en Brit-dag nog ‘n projek aan saam met David Scholtz, ‘n afgertrede prokureur van Johannesburg en passievolle navorser oor oorloggeskiedenis.
Hulle is op soek na die Watervallers en hul nasate. Gedurende die Anglo-Boere Oorlog van 1899-1902, was daar in die Standerton Kommando verkillende wyke: Wyk Kliprivier, Wyk Blesbokspruit, en Wyk Waterval.
Volgens oorlewering was die “Watervallers”, soos hulle bekendgestaan het, ‘n klein kommandotjie wat in die omgewing van Val en omliggende plase, die wêreld warm gemaak het vir die Britte.
“Daar is vir baie jare in die argiewe en militêre museums, asook aanlyn gesoek na ‘n data basis met die naamlyste van lede van die kommando” het Britz vertel.
Scholtz het uiteindelik die register wat geneem is van ‘n vergadering op 22 Junie 1901 ontdek in die Museum vir Militêre Geskiedenis in Saxonwold, Johannesburg.
“Op hierdie dag is ‘n baie belangrike Boere Krygsraad tussen die Vrystaatse Regering en die Zuid-Afrikaanse
Republiek op die plaas Branddrift tussen die huidige Secunda, Standerton en Val gehou,” het Britz verduidelik.
“Omdat die Boere onder ongelooflike druk van die Britse verskroeide aarde-beleid geplaas is, is die krygsraad bymekaar geroep om te besluit of dit enigsinds nog sin maak om voort te veg, en of die Boere moet oorgee om te verhoed dat alles verlore gaan.”
Teenwoordig by hierdie historiese geleentheid was President MT Steyn, Generaal Christiaan de Wet en Generaal Barry Hertzog van die Vrystaatse Regering.
Hooggeplaaste verteenwoordigers van die Zuid-Afrikaanse Republiek het ingesluit waarnemende President Schalk Burger, Generaal Louis Botha en Generaal Koos de la Rey.
Met die krygsraad is besluit dat alle vredesonderhandeling met die Britse regering ten sterkste verwerp sal word, en is besluit om die stryd voort te sit.
“Om hierdie belangrike historiese gebeurtenis te herdenk, en ook om eer te gee aan die “Watervallers” van die Val-omgewing, het ons besluit om ‘n monument op Val op te rig en die burgers te vereer vir hul deelname in die vryheidsstryd,” het Britz gesê.
Die plan is om hierdie monument op 10 April tydens die volgende Boer en Brit-dag te onthul. Faksimilië van die naamlys is op sosiale media versprei in ‘n poging om die moeilike handskrif te ontsyfer en sodoende te verseker dat nie een burger op die lys uitgesluit word nie.
“Daar is tans nog van die families in die omgewing, en sommige plase op die lys is vandag deel van Sasol se myne, soos Twistdraai, Brandspruit en Middelbult, asook Winkelhaak Goudmyn en Watervalshoek, wat die latere Leslie/Leandra-dorpe geword het,” het sy vertel.
Volgens Britz woon die nasate van sommige van die families op die lyste vandag steeds in die omgewing, soos die Wessels, Cronje, Van den Berg, Horn, Marnewyk, Ras, Jansen van Nieuwenhuizen, Moolman en Pieterse.
“Miskien kan lesers hul plaas- en familiename op die lyste identifiseer?”
Die lyste
Britz en Scholtz het sover moontlik die name en plaasname op die register ontsyfer, maar daar is steeds verskeie vraagtekens waar die handskrif net te onduidelik is.
“Die Watervallers” wie onder Generaal Coen Brits en Kommandant J.J. Alberts gedurende die Anglo-Boere Oorlog vir vryheid in die Waterval Wyk, Val diens gedoen het:
Boesmansfontein: N. H, J.?, J. A, P. A, N.A & C. D. Ras, P. C, & P. J. L. Venter, S.M, G Venter
Boesmanskranz: H. L. Zietsman, Q. Lotriet
H. L. & L. B. Dÿzel, Q…. ;pdMvet Deyzel
Brakspruit: H.J. Dreyer, A. J. & G.P. Brits,
N.J. J. van der Merwe,
H. J. & N.J. Dreyer, J. B. du Plessis
Branddrift: P. J. Viljoen, D. ??Moolman Morkel, Viljoen
Brandspruit: C. P. Brits, S.L. de Fortier,
H. J. Dreyer, J. B. du Plessis
Grootspruit: P. P, J.A.H & B.P. Roets
Hartebeeskuil: P. A, S. J, J. A, D. S. J. & H. J. J. Gildenhuys, A.J, D. J, J. J, J.N. & M. Steyn, J. C. & M. N. J. Marnewek, (Marnewÿk) ? Parsons, A. C. Greyling
Holfontein: D.P. de Lange, A.H. Cronje, N.L. Smith, j, A.J. Pieterse, N.P.J. Paarsing
Holgatsfontein: E.H. du Plessis, B. J.van Jaarsveld, H.J. van Aswegen, P. A. Ras, A. Cronje, S.Pretorius, C. A. Parsson
Kaalspruit: M. S. p. & Pieter Lindeque, O. & C. J. Smith,
Klipdrift: Kommandant J.J. Alberts, H. J. & N. J. A. Wessels, H. du Preez, H. J. Morkel, ? Danhauzer
Kromdraai: ? Louwrens, P.L. G. J.G, & H.J. Wessels, P. N. Viljoen C. J. Muller, N.J, A. & S.J. Kourer
Langverwacht: J. J. Joubert, C. & J. J. Kriegel, ?? Malan
Leeuwpan: D. S. & L.J. Jacobs, N. J. C. Pretorus
Mahemsfontein: G. P, C.J, H. J. & J.J. Botha
Middelbult: I, H.P. Jansen van Nieuwenhuizen
Modderfontein: P. L. Schalkwyk, P. M. Grobler, C. M. van der Wat
Paardefontein: A.J. Breytenbach, P, P.A. & J. J. Steyn, P.? J, J. P, C. L, J. N. & J. J. van den Berg, D. S. van Vuuren, J. Botma
Platkop: D. Brits, D. J, & C. A, P. Schutte,
C. H. Burger, H. L. Foord
Rietvlei: (Rietvalÿ) H.J. Botha, G. P. Rossouw,
B. J. Steyn, H. P. Bodenstein
Roodebank: A.C, J.C, J.S. & G. M. Claassen,
G. Viljoen, ? Muller, Z. J. Pretorius
A.P, P.J, J.M.A. & H. P. Gildenhuys, Pretorius
Salpeterkrans (Zalpeterkrans): L.C. Blom, H. & N. J. Nel, P. P. Roets, ? Dreyer
Sprinkbokraai: P. J. Cronje, C. J. Brits,
J. J. Jansen
Strydbult: L. J. R, A.J. Burgers, J.J. Burger, R. Siese, J. P. Griesel
Syferfontein: J. M. Janse van Rensburg,
J. A. Visagie
Twistdraai: J.J. Boshof, G, J. J, P. J. & D. M. Janse van Nieuwenhuisen
Vaalbank: P. P. Roets, ? Ras
Van Tondershoek: J. J. Steyn, P.J. Rudolph, T. Dalwitzer
Vlakfontein: A.H. Cronje, L. Smith, J. Pieterse
Waterval: C. P, C.P. & H. H. J. Willemse
Watervalshoek: A. Swarts, J. J. Taljaard,
P. J. Nel, N. J. Brits C. H. J, J.J. & A.C. Willemse,
J. J. O’ Neil
Weltevreden: N. O. & P.J. & N.O.R.K Brits, D. S. Jacobs, G.M. Claassen
Winkelhaak: N. J. M. & M.S du Plessis,
G. L. Joubert, J.M. dorveling
Witnek: A. M. J. Horn
Wolvefontein: J. C. & L. J. A. Hopply, J. A. le Grange, H & H. B. N.H. G.J. & J.J. Klopper, C. J. Spies, A. P. Roelofse, H. N. Ras, A. J. Geel, C.J.A. Parsons
Zandfontein: J. P. van der Merwe
Witkleyfontein??? S.S, J.J, & B.P Pieterse
Wilklopfontein??? B.P. Pieterse
Hierdie lede van die Waterval Kommando was teenwoordig by die Waterval Konferensie, gehou op die plaas Branddrift, 22 June 1901.






“Sjieling vertel hoe Tommy hom vasgeloop het” – Uittreksel uit die Huisgenoot van 23 September 1957 (Vertel deur Hans Jurgens Wessels)
“’n Groepie van ons wat onder genl. Coen Brits geveg het, kom net terug van Machadodorp se wêreld af. My ouers was oud en stokalleen op Klipdrift – jy sien ons vier broers, Lang Jan, Frans, Piet en ek was al vier op kommando.
Toe ek by die ou mense kom, vertel hulle my dat ‘n Engelse offisier met die naam Lyons die vorige dag daar was. Hy het die oubaas se Mauser en al die tuie in die waenhuis gevat en aan hulle gesê dat hy hulle die volgende dag na die kamp op Standerton sou kom haal.
Ons groepie van sestien besluit dadelik om ‘n stokkie hiervoor te steek.Vroeg die volgende môre is ons tussen die walle van Watervalrivier op Cyferfontein, die plaas van kmdt. (later senator) Gert Claassen.
Toe die eerste strale van die son oor die bulte skiet, sien ons vyf-en twintig Engelse te perd op pad na Klipdrift. Hulle sterre en krone op hulle helms blink in de môreson. Hulle word die pad gewys deur swart “guides” wat 25 tree voor die Engelse ry.
Dis mos toe dat ek sien een van die “Tommies” ry op Joof Alberts se perd met die naam “Weggooi”. Ek ken my ou swaer se ryperd net so goed as my eie. Die perd het kort vantevore spoorloos van die plaas af verdwyn. Ons sestien brand sommer gelyk los op die Engelse. Hulle ruk vining om en laat nael in die rigting van VAL stasie. Hulle kamp was by die brug oor Watervalrivier.
Die drie swart “guides” was nou agter en net gou haal broers Piet en Theunis van den Berg elkeen een van sy perd af.
Koos van den Berg klits die derde een en skiet hom raak en hy jaag weg en soek skuiling in die rivier. Terwyl ons groepie so na die twee gesneuwelde naturelle kyk, verskyn daar skielik twee gewapende Engelse offisiere op die wal van die rivier. Hulle ry ewe ongeërg in ons rigting tot op vyftig tree. Ampie Wessels skreeu; “Hands-up! Julle…….”
Toe gryp die naaste een sy rewolwer, maar voor hy kon skiet, knal Ampie se skoot en Hodgson val van sy perd af. Sy been was afgeskiet. Die ander een vlie om en jaag in die rigting van die driffie. Toe sien ek dis mos Willem Marneweck se ryperd, “Baby” waar hy op ry.
Ja, daar is die brand W.M duidelik op die boud. Ek ken my ou buurman se perd en weet sy het reisiesbloed in haar are, maar ek wou die Engelsman van agter af injaag en hom met die boud van die geweer afstamp soos ek al vantevore gedoen het. Toe ek anderkant die wal uitkom, was hy nog honderd tree voor.
Ek skreeu “Hands-up! Hands-up!” terwyl ek my perd “Vrystaat” met die hakke in die ribbes pomp, maar die merrie lê oop voor teen die sandbult uit, reguit na Piet van den Berg se huis toe.
Toe hy omkyk en sien dat ek nader kom, pluk hy sy rewolwer uit. Net toe trap sy perd in ‘n gat, en ruiter en perd rol in die lang droë gras, maar toe staan ek reeds langs hom.
Geeneen van ons twee het ‘n woord gepraat nie. Hy rig sy rewolwer op my – daar was nie tyd vir aanlê nie – toe trek ek die skoot af. Dit het alles baie vining gegaan. Hy steier agteroor en sterf.
Toe voel ek in sy sak of hy nie papiere by hom het nie. Ek sien dat ek deur sy geldbeursie geskiet het en dat my koeël ‘n Paul Kruger sjieling getef het. Die kêrel se naam was Parsons.
Ek dra die sjielieng tot vandag toe nog in my beursie as ‘n aandenking aan my noue ontkoming die dag toe ek my ouers beskerm het teen die kamp op Standerton. Nadat ons Hodgson se been behandel en hom met water en kos gelaaf het, is ook hy oorlede.
Toe stuur ek vir Klaas Claassen na die Engelse klamp met ‘n wit vlag om rapport te maak oor die twee Engelse en die drie naturelle.”
“Ons het alles opgeoffer en alles verloor…ook ons beste manne, maar…ons het darem ons naam behou!”
Die bom (vertel deur oom Hans Wessels)
Gedurende die Boere-oorlog het my oupa Hans, sy swaer, Joof Alberts (later Senator) en ‘n broerskind, Ampie Wessels, ‘n penkop, verlof van die bevelvoerder gekry om by hul plase aan te gaan en te sien wat daar aangaan.
Die kommando was op pad van Robertsdrif na Bethal. Hulle sou weer by die kommando aansluit op Trichardt. Hulle het eerste by oom Joof se huis aangegaan en van daar na oupa Hans se huis beweeg. Hulle was egter salig onbewus van Long Tom wat die Engelse op die plaas Uitkyk opgestel het.
Dit was die hoogste punt in die hele omgewing, (vandaar die naam Uitkyk!) Wat was hul ontnugtering groot toe die eerste bom rakelings oor hul koppe trek en sowat honderd tree anderkant hulle teen die bult ontplof.
Die drietal het nie op hulle laat wag nie en laat waai na ‘n bloekombos, sowat 1 000 tree verder. Die tweede bom het sowat sestig tree duskant hulle ontplof en hulle toe onder stof en kluite geskiet. Gelukkig is nie een van hulle deur skrapnel getref nie.
“Kêrels, nou moet julle wragtag ry – die derde een is tussen ons!” het oupa sy makkers aangemoedig. Dit was ook so; die kannoniers het nou die afstand gehad en die derde bom het die grond sowat agt tree agter die perde getref en gode sy dank, nie ontplof nie.
Daardie lewendige bom lê vandag nog in die sandgrond teen die bult op Klipdrift begrawe.Oupa het my die plek waar die bom min of meer moet lê, gaan wys en my gemaan om nuwe intrekkers te waarsku om nie daar te ploeg of te bou nie.
Uit Brandwag 1972
“Uit ons verlede…
Oom Gert Claassen (vertel deur J.R. Malan)
“Dit is seker uniek in die geskiedenis van Transvaal dat ‘n man wat aanvanklik min kanse in die lewe gehad het, dit so ver bring dat hy sy distrik verteenwoordig in die Provinsiale Raad, die Volksraad, en die Senaat.
Gert Marthinus Claassen is op 10 September 1872 in die distrik Calitzdorp gebore. As jong seun trek hy saam met sy ouers na Transvaal. Avontuurlus bruis in die jongman se are. Onbewustelik sluimer die militere gees in hom. Oom Paul se beperkende stemregwette hinder hom nie. Die groot Claassen-familie het na Transvaal gekom oom ‘n bestaan in ‘n nuwe land te vind.
Die stryd teen opstandige Bantoestamme in Noord-Transvaal neem steeds groter afmetings aan in die tagterjare. In Mei 1894 kommandeer Kommandant-Generaal Piet Joubert 1 500 burgers vir die stryd kaptein Malaboch. Dit was oom Gert se kans! Hy meld aan as vrywilliger.
Na ‘n paar skermutselings in die Blouberge en enkele ongevalle, tree eerwaarde Sonntag op as bemiddelaar. Oom Gert is teenwoordig toe Malaboch uit sy grotskuiling te voorskyn kom en vrede vra.
In 1898 ondervind die republikeine probleme met Kaptein Mpefu. Saam met bekende Standertonners soos Coen Marnewick, Koos Grobler, en Hans Wessels, vertrek Gert Claassen na Potgietersrus, die destydse terminus van die spoor. Die tog word verder per ossewa voortgesit onder begeleiding van die perdekommando.
Onder bevel van artelleris Fanie Trichardt, word twee ysterforte opgerig op die plek waar die huidige N.G. Kerk van Louis Trichardt staan. Mevrou Piet Joubert is ook in die laer en moederlik versorg sy die siek burgers. Op 18 Oktober hoor oom Gert dat sy vrou ernstig siek is en hy vertrek onmiddelik na Standerton. Toe hy tuiskom, vind hy sy drie dogtertjies in die sorg van hul ouma… sy vrou is reeds op 20 Oktober oorlede.
Na die Mpefu-oorlog gee oom Paul Kruger aan oom Gert die stemreg, soos trouens gedoen is met al die kolonialers wat die wapen opgeneem het ter verdediging van die Republiek.
Die skermutselings in die Soutpansberge was egter slegs ‘n voorsmaak van wat sou volg. Toe die eerste skote op 12 Oktober 1899 op Kraaipan klap, maak oom Gert alles gereed… perd, saal, toom en proviand vir agt dae. Sy ondervinding as gewone burger van die Standertonse Kommando, sy kontak met Generals Louis Botha en Coen Brits en sy waaghalsige dade, sal ‘n lesenswaardige boek uitmaak.
Na die gedeeltelike verval van die Standertonse Kommando, wyk hy saam met ander uit na Middelburg. Dis hier dat sy krygmansbloed begin kook het. Die manne is te onaktief! Is ons dan nie in ‘n stryd om lewe en dood ter wille van ‘n ideaal nie?
Terug in Standerton maak hy sy eie Kommando, bekend as “Die Waterval Wyk” bymekaar… sy drie broers, Hans Wessels, Charlie Parsons, Corneels Malan en daardie dapperste onder die dapperes, Corneels Roets. Die manne se bloed is warm. Maar die vrouens en kinders wat saam met die kommando trek, moet versorg word.
Kos is egter volop want tussen Standerton en Greylingstad word ‘n paar proviandtreine ontspoor. Na so ‘n “vet” trein gevang is, smul die vrouens lekker aan ham, koek en ander lekkernye wat vir die kakies bestem was.
Dis kort voor Kersfees. Oom Gert gee bevel aan sy manne om die spoorstawe los te skoef, daar waar die trein die draai maak om Grootpan, naby VAL stasie.
Oom Gert lag lekker as hy vertel hoe die Engelse offisier op Standerton aan hom sê:”Ek gee nie om dat jy my manne en die trein gevat het nie, maar sommige van my soldate wat julle uitgeskud en teruggestruur het, was so dronk dat hulle op die spoor bly lê het.”
Ai! Die penkoppe darem! Oom Gert gee bevel om terug te val. Die Engelse is besig om hulle te omsingel. Vinnig gee die Boere pad na die walle van die Watervalrivier… maar agter hulle knal telkens nog ‘n skoot uit ‘n mauser. Oom Gert merk onraad en jaag vining terug. Die Engelse is naby. En daar lê sy broertjie Paul. ‘n Penkop van vyftien jaar, in die lang gras na hartelus en skiet… hy alleen.
“Wat maak jy hier, kêrel? Die Kommando is al oor die bult!” skree oom Gert. “Nee Boetie, nou skiet ek lekker. Hulle kom nou dik en elke skoot is raak.” Een raps met die sambok en die twee bruines lê oop teen die bult terwyl die Engelse koëels om hulle ore fluit.
Daardie Engelse koëel in sy voet het baie las gegee. “Meneer Weiss, ‘n boukontrakteur van Standerton, was my dokter en vier sterk kêrels my chloroform. ‘n Paar keer steek Weiss die tangetjie agter die koëel aan, maar toe die ding die derde keer afglip, sê ek:” Nee a, jy trek die toonbeentjie uit in plaas van die koëel.” Dertig jaar later is die koëel eers verwyder.
By die slag van Van Tondershoek het oom Gert hom onderskei deur sy dapperheid en onverskrokkenheid. Dis hier waar sy swaer, die onvergeetlike Corneels Roets, gesneuwel het. Hy het nooit anders as uit die vuis geskiet nie, terwyl hy op die platte van sy voete staan. ‘Ja-nee’ sê oom Gert, ‘as jy wil sien waar die dapperste man lê, staan Corneels nog ‘n paar tree verder vorentoe.’ Die Engelse wat hier gesneuwel het, is op oom Gert se plaas, Cyferfontein begrawe.
Die slag van Spioenkop het altyd onvergeetlik in oom Gert se geheue gebly. Daardie grusame toneel van meer as 1 800 gesneuwelde Engelse het die geharde krygsman se menslike gevoel geraak, maar…ons het self ‘n paar honderd van ons beste manne daar verloor.
Teen die einde van die oorlog is die rang van Vecht-Generaal aan oom Gert toegeken. Uit beskeidenheid het hy egter nooit van die titel gebruik gemaak nie. Oom Gert was ‘n bittereinder en na die oorlog is hy vereer met die medalje “Voor Trouwe Dienst”.
Oom Gert het tot op sy oudag ‘n goeie skut gebly.
“Sien jy daardie kol hoë gras daar andekant die spruit? Daar sien ons ‘n paar kakies ry. Ek sê vir Hans Wessels hy moet vir hom een uitsoek; ek sal die agterryer vat. Jong, dis bietjie oor die duisend trëe. Toe die skoot klap, vlie die agterrryer se muil onder hom uit en hy val in die lang gras. Toe ons daar kom, lê die man plat op die grond. Ek het net sy muil raakgeskiet. Die agterryer het nie weer opgestaan nie”
In die Eerste Wêreldoorlog veg oom Gert in Suidwes en verwerf die rang van Luitenant-Kolonel. Sommige van die kanonne wat voor die Uniegebou in Pretoria staan, is deur sy regiment buitgemaak.
In 1915 word oom Gert verkies tot L.V. vir Standerton. Hy het sy kiesafdeling met bekwaamheid en waardigheid verteenwoordig tot 1924 toe hy sy setel afstaan aan Genl. Smuts wat verslaan is deur George Hay in Pretoria –Wes.
Oom Gert verkies om hom nou uitsluitlik aan sy boerdery te wy, maar dien intussen nog op verskillende rade en openbare liggame.
In 1930 stuur Standerton hom as hulle verteenwoordiger na die Provinsiale Raad. Die Standerton distrik pluk vandag nog die vrugte van onbaatsugtige diens wat oom Gert aan hulle gelewer het. In 1936 onttrek hy hom aan die politiek.
In 1939 word hy egter benoem tot Senator tot 1948, toe hy weens swak gesondheid en ‘n haraanval in die Senaatsaal moes bedank. Hy is in Julie 1951 oorlede.
Oom Gert was ‘n suksesvolle boer, ‘n onverskrokke krygsman, ‘n weldoener aan minderbevoorregtes, ‘n man van onkrukbare opregtheid en’n voorbeeldige Christenmens.







