Erfenis of Ergenis?
Ons het pas Erfenisdag gevier. In sekere kringe word die vakansiedag as Braaidag gevier, tot die onsteltenis van nóg ander kringe.

Ons het pas Erfenisdag gevier. In sekere kringe word die vakansiedag as Braaidag gevier, tot die onsteltenis van nóg ander kringe.
Nou ja, ons los dit nou maar daar, want in nog ander kringe word die dag gevier, maar hulle weet nie watse dag dit is nie, maar vier sal hulle vier.
Ek het al gewonder hoeveel van die mense wat die dag getrou onder die vaandel van “erfenis” vier dit werklik ernstig het met erfenis.
Die slim mense wil dit hê dat ons almal as landsburgers saam ’n universele erfenis moet vier. Nou is die vraag: watse erfenis? Watter erfenis is vir ons deur ons voorgangers nagelaat en wie of wat se erfenis moet ons vir ons kinders en kleinkinders nalaat?
Is dit ’n erfenis van lekker van die werk afkry en lekker by die dam braai, drink en mors? Wil ons werklik hê ons nasate moet ’n vuil, besoedelde dam in die middel van die dorp erf waar die visse almal “getinte” sonbrille dra wat van groen of bruin bierbottelbodems gemaak is en reënjassies wat van kleurvolle plastieksakke en wegneemkosbakkies gemaak is?
Is dit werklik die voorbeeld wat die nageslagte moet erf?
Is dit wenslik dat die wat ná ons gaan kom ’n vuil dorp, gesaai met papier, blikke, glasstukke en plastiek moet erf?
Die afgelope naweek het talle besoekers weer na ons dorp toe gekom om die verskillende geleenthede by te woon.
Sondagoggend het ek vroeg deur die middedorp gery en wat ek gesien het, was ontstellend. Papiere en gemors wat in elke straat en op elke sypaadjie gesaai lê, het my laat skaamkry vir my dorp. Weereens, is dit werklik die erfenis wat mense in die toekoms sal wil vier?
Anders gesien, is Erfenisdag ’n braaigeleentheid waar pa of boetie of altwee en, ja, in baie gevalle ook mamma, hulself te buite gaan met die lawaaiwater en ’n kultuur van drink-tot-jy-nie -meer-kan-staan-nie vir nageslagte nalaat? Ek sou wil glo dat my kultuur of erfenis uit veel meer as dit bestaan.
Daar is sekerlik niks fout met ’n braai op Erfenisdag nie, maar die mendom sal vinnig met ’n plan moet vorendag kom om ’n trotse, skoon omgewing en trotse erfenis vir ons nageslagte na te laat.



