Paasfees. Fees of verdriet?
Die Paastyd hou vir my persoonlik baie bekoring in met bittersoet herinnerings.

Toe ons weer sien, is Paasfees op ons.
Dit was sommer ook nou die dag Kersfees en Nuwejaar. Altans so voel dit vir ‘n mens.
Die Paastyd hou vir my persoonlik baie bekoring in met bittersoet herinnerings. Die hartseer deel is die afsterwe van my geliefde moeder vlak voor die Paasnaweek byna ‘n kwarteeu gelede. Ja, dis lank terug, maar die verlange sal seker nooit bedaar nie.
Die soete herinneringe is die vreugde en genot wat my ouers geput het uit die onskuldige praktyk van Paaseiers soek in die tuin. Deesdae het mense een of ander duistere betekenis aan sulke praktyke gekoppel en daar word namens jou besluit of dit onskuldige pret is of nie.
Ek is egter terdeë bewus van die ware betekenis van Paasfees.
‘n Ander hartseer wat die Paasnaweek vir baie families inhou, is die hoë sterftesyfer op die land se paaie in dié tyd.
Elke jaar hoor en lees ons in die media van die skrikwekkende hoë dodetal op die paaie weens die talle ongelukke wat plaasvind.
Die trauma en hartseer wat mense moet deurmaak, is onbeskryflik. Herwaarts en derwaarts moet daar geskarrel word om reëlings te tref by begrafnisondernemings en hospitaalbesoeke aan die beseerdes moet afgehandel word – dikwels in ‘n stad of dorp ver van die huis af.
Dan kom onbeplande verblyf ter sprake en talle ander reëlings daarby. Die feit dat mens in baie gevalle moet wag tot die Dinsdag ná die Paasnaweek om regtig met reëlings aan die gang te kom, dra ook by tot die angs en verdriet.
Dit is alles so onnodig en word veroorsaak deur onverskilligheid, onbedagsaamheid, onverantwoordelikheid en al die ander “on-heide”.
Vir dié wat oor dié tyd op die paaie gaan wees, ry asseblief versigtig en kyk uit vir die ander motoriste wat nie versigtig ry nie. Maak voorsiening vir hulle wat nie kan of dit self wil doen nie.
Van voorsiening gepraat.
Dink ook aan die onskuldige diere wat oor lang naweke en vakansietye soos dié dikwels aan hulle eie lot oorgelaat word. Ou Wagter wat ons tot nou toe so getrou opgepas het of Kietsie wat daarvan hou om op die skoot te lê en spin, kan nie vier dae sonder kos of water gaan nie.
Vroeë reëlings met betroubare bure of vriende moet gemaak word om vir ons dierekinders te sorg.
Met dit alles in plek, kan ons met ‘n geruste hart Paasfees vier.



