Kom ons staan saam
Dit was interessant om te hoor dat ons almal oor die provinsies heen maar met dieselfde uitdagings gekonfronteer word.

Ek het die voorreg gehad om verlede week ‘n konferensie saam met kollegas van oral in die land by te woon.
Behalwe dat dit lekker was om al die ou gesigte weer te sien en weer op hoogte te kom van wie getrou het, kinders en kleinkinders bygekry het en sommer net nuus uit te ruil, het ‘n paar ander dinge gebeur wat my bietjie laat dink het.
Dit was interessant om te hoor dat ons almal oor die provinsies heen maar met dieselfde uitdagings gekonfronteer word.
Sandton het blykbaar net soveel slaggate in hul woongebiede se strate as Ermelo en in Oudtshoorn is die rioolstelsel, of die gebrek daaraan, vir die inwoners net so ‘n groot kopseer.
My kollegas landwyd word ook soos ek daagliks deur moedelose verbruikers genader om te berig oor swak dienslewering en die frustrasies wat daarmee saamgaan.
Skielike voel ek nie meer so alleen nie.
Die besef dat ons probleme hier in Ermelo nie uniek en tot ons dorp beperk is nie, maak dit nie beter nie, maar het my net weer laat besef dat iemand iewers sal moet intree, want vanself gaan die probleme nie beter word nie.
Die groot vraag bly natuurlik: wie en wanneer?
Tydens ‘n koffiesessie saam met my kollegas het iemand die opmerking gemaak dat as almal net teruggaan na die basiese gehoorsaam van reëls en die lewering van basiese dienste waarvoor ons almal betaal, is die stryd halfpad gewonne.
Ek woon naby die hoofstraat en word snags wakkergehou deur vragmotors wat oor die spoedhobbels in Kerkstraat jaag en ‘n verskriklike geraas veroorsaak. In die eerste instansie mag vragmotors nie deur die dorp ry nie en tweedens is daar nie wetstoepassing om die bestuurders te dwing om die reëls te gehoorsaam nie, Sou dit gebeur, sou die middedorp inderdaad reeds vir almal ‘n beter plek wees.
Sou die waterpype en elektriese kabels in stand gehou word en water- en kragonderbrekings dus beperk word, is ons nog ‘n hele paar stappe verder.
Basiese verkeersreëls soos om ‘n vierrigtingstop en selfs ‘n gewone stopteken reg te benader, sal verhoed dat ongelukke plaasvind en voetgangers omgery word. Nog ‘n stap in die regte rigting.
Vir my kom dit alles neer op respek vir reëls wat voorwaar nie sonder rede ingestel is nie en net nagekom moet word en die basiese beginsel van “gee die mense waarvoor hulle betaal”.
Ek op my eie kan nie die probleme oplos en van die wêreld ‘n beter plek maak om in te woon nie, maar ek kan ‘n beroep doen op almal om saam te werk en te bly aandring op dienslewering en sodoende ten minste van Ermelo ‘n beter plek te maak om in te woon.
Saam kan ons ‘n verskil maak.



