Harde werk stuur Angelique op koers
In slegs een jaar het Angelique meer bereik as baie ander.
SECUNDA – Angelique Viljoen (32) het as ‘n beginner in een jaar meer bereik as baie ander gesoute atlete.
Sy het 23 weke gelede begin voorberei vir die International Federation of Bodybuilding and Fitness (IFBB) se Mpumalanga provinsiale kompetisie in April, min wetend dat haar lewe drasties gaan verander.
Angelique het in Augustus ‘n derde plek behaal tydens die Mpumalanga provinsiale “fitness bikini”-kompetisie.
Na dié kompetisie is sy gekies om Mpumalanga te verteenwoordig tydens die IFBB Suid-Afrikaanse Nasionale Kampioenskap op 6 September.
Die wêreld van liggaamsbou was onbekend vir haar en dít wat sy nou al bereik het, is ‘n groot prestasie omdat sy ‘n beginner is en hierdie haar eerste jaar is wat sy meeding.
Haar afrigter, Sam Kruger van Raw Supplements and Gym, sowel as haar man het haar gemotiveer om wel deel te neem en nie net te oefen om beter te lyk nie.
Tydens die Suid-Afrikaanse Kampioenskap was die beoordelaarspaneel internasionaal, wat beteken dat die standaard baie hoog was.
Angelique het tydens dié kompetisie ‘n derde plek behaal.
Mnr. Wayne Price, president van die Suid-Afrikaanse IFBB Assossiasie, het Angelique genooi om Suid-Afrika te verteenwoordig tydens die Amateur Olympia in Liverpool in die Verenigde Koninkryk.
Dié geleentheid vind vanaf 30 Oktober tot 2 November plaas.
Angelique gaan ook aan die Arnold Classics, Suid-Afrika deelneem in 2016.
Sy beplan ‘n fondsinsamelingsprojek om haar koste te dek vir die Amateur Olympia in Liverpool en het daaraan gedink om ‘n motorfiets uitritdag te reël.
Enige motorfietsklub, onderneming of mense wat belangstel om Angelique te ondersteun, kan haar kontak by angelique.viljoen83gmail.com
Angelique het ook vir die USN Face of Fitness 2015 Cover Girl search ingeskryf.


Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 2667A726
WhatsApp – 0748877590



