Standerton klop Ermelo in naelbyt-affêre
Met die tweede helfte het die Standertonners van meet af gewys hulle wil rugby speel en het soos tiranne die losgemaal gedomineer.
Standerton Dekalb Rugbyklub het Ermelo op 7 Mei 19-15 geklop in ’n wedstryd waar bibberende toeskouers eerder hulself op die veld sou wou sien.
Standerton Dekalb Rugbyklub se eerstes het die span van Ermelo op Hoërskool Standerton se veld die stryd aangesê.
Hoewel die wedstryd nie veel drieë opgelewer het nie, was daar genoeg aksie om getroue ondersteuners langs die veld te hou.
Meer aandag aan dissipline was nodig in die eerste helfte siende die manne maar so bietjie koppe gestamp en nommers uitgeruil het.
Standerton het in die eerste helfte baie bal gesien, maar kon nie daarin slaag om dit te omskep in punte nie.
Ermelo was eerste om punte aan te teken en het die drie verdoel.
Standerton het kort hierna geantwoord met ’n juweel na ’n puik skoppie in oop spasie deur Hendrik Coetzee, heelagter, wat goed deur die vleuel, Tiaan Potgieter, opgevolg is.
Met die tweede helfte het die Standertonners van meet af gewys hulle wil rugby speel en het soos tiranne die losgemaal gedomineer.
Ermelo het weer gesorg vir ’n drie met die bal wat blitsig en met sagte hande tot by hul vleuel gestuur is wat kon oordraf sonder dat ’n hand op hom gelê is.
Dit was duidelik dat dit ’n naelbyt-affêre sou wees, maar Ermelo se losskakel het nie sy skopskoen ingepak nie.
Dieselfde kon nie gesê word van Standerton se Riaan Groenewald nie, wat elke fout van sy teenstanders in punte omskep het en so die wedstryd beklink het.
Sien al die foto’s HIER
Met ’n spoggerige 14 punte agter sy naam is hy as agterspeler van die wedstryd gekies.
Juan ‘Shrek’ Kotzé is as voorspeler van die wedstryd aangekondig.
Alle geld wat deur ingangskoste, worsbroodjie- en koeldrankverkope ingesamel is, is ten bate van me. Charmaine Lottering oor wie die Standerton Advertiser op 29 Januarie berig het.
Na ’n bloedklont wat nie wou oplos nie, het sy haar been verloor.
Die agterste spier in haar been is te kort afgesny en dit maak dat die stompie agtertoe trek.
Me. Lottering moet weer ’n operasie ondergaan om die probleem op te los voor sy ’n kunsbeen kan kry.
Mnr. Ben Vorster, Standerton Dekalb Rugbyklub voorsitter, het die gemeenskap vir hul ondersteuning bedank.
“Ons benodig nog ’n paar rand om vir me. Lottering se operasie te betaal, maar ons is dankbaar vir dit wat reeds ingesamel is.”
Mense wat ’n bydrae wil maak kan mnr. Vorster skakel by 083 650 3465.
Standerton se tweedespan speel op 14 Mei teen Middelburg 3 op Middelburg en die eerstespan kom die middag teen Sasol 2 op Sasol se velde te staan.
LEES OOK:
Charmaine wil weer kan loop HIER







