Ashley stap met die louere weg
Speler is Krieketspeler van die Jaart, die Veelsydigste Speler van die Jaar, asook die Bouler van die Jaart.
BETHAL – Bethal Bears Krieketklub het onlangs hul jaarlikse prysuitdeling by Laerskool HM Swart aangebied.
Die groot wenner van die aand was Ashley Methula wat weggestap het met die Krieketspeler van die Jaartrofee, die Veelsydigste Speler van die Jaartrofee, asook die Bouler van die Jaartrofee.
Methula het ook ’n merietetoekenning gekry as beste bouler in die Mpumalanga Premierliga.
Leon Parsons het die prys gewen vir Kolwer van die Jaar.
Gareth Wilkinson is as die T20 Kolwer van die Jaar aangewys en Johann Stadler as die T20 Bouler van die Jaar.
Tiaan du Preez het die Nuweling van die Jaartrofee gewen en Drikus Pentz die Veldwerker van die Jaartrofee.
Die mees verbeterde krieketspeler was Thinus Plowman.
Neil Parsons, wat vanjaar sy laaste seisoen vir die klub gespeel het, het erelidmaatskap van die klub ontvang.
“Dit was die suksesvolste seisoen in die klub se geskiedenis en ons het die Mpumalanga Premierliga gewen.
“Ons is bly ons kon al ons spelers vir hul bydraes beloon.
“ Dit is sowaar ’n prestasie om op trots te wees,” het mnr. Koos du Preez, bemarkingsbeampte van die Bethal Bears, na die geleentheid gesê.




