Standerton hardloop weg met wedstryd
Dieselfde resep is in die tweedehelfte gebruik en Standerton het gekook!
Standerton Dekalb Rugbyklub se tweedespan het op 21 Mei die Kinross Tigers se eerstespan laat ‘purr’ in ’n wedstryd wat Standerton 89-5 gewen het.
Die eerste helfte het opwindend begin, maar is gekenmerk deur verskeie hoogvatte deur die manne van Kinross, soveel so dat ’n speler afgestuur is met ’n geelkaart om oor sy tegniek te gaan nadink.
Standerton was altyd in beheer en het met hul groot voorrymanne die pad gelyk gemaak vir hul agterspelers om aan te val.
Die spreekwoordelike witlyn-koors het egter die eerste minute onder die voorries ingevaar en was dalk die enigste kritiek wat toegeswaai kon word.
Na ’n paar harde woorde deur agterspelers en afrigters aan die voorry gewissel is, het die koors gebreek en die span soos ’n goedgeoliede masjien geloop.
Sien al die foto’s HIER
Brendan Coetzee, losskakel en kaptein, was aan stuur van die 15-man skip en het onbaatsugtig telkemale spelers in gapings ingestuur en boonop met sy skopvoet oorheers.
Juan (Skolla) Pieters, binnesenter, het self uitgeblink en die Tigers se lyn van verdediging keer na keer deurboor.
Kinross het geen antwoord in die eerste helfte gehad nie en Standerton het rustyd ingegaan met ’n gemaklike voorsprong.
Dieselfde resep is in die tweedehelfte gebruik en Standerton het gekook!
Kinross se manne het goeie terugveggees gewys en ’n drie gedruk wat vir iets op die telbord gesorg het.
Hulle skopper het egter nie met die verdoelskop geslaag nie.
Brendan Coetzee het na die wedstryd gesê: “Krediet moet gaan aan die span se dissipline wat baie goed was in tye toe die teenstanders alles wou doen behalwe rugby speel.
“Dit was ’n spanpoging en ek is baie trots op die spelers.”
Standerton se voorspeler van die wedstryd is Llewelyn van der Linde Botha en Brendan Coetzee is agterspeler van die wedstryd.
Standerton Dekalb Rugbyklub se eerstespan kom volgende teen Carolina en die tweedespan teen Sasol 3 op Hoërskool Standerton se veld te staan.
Vir meer inligting skakel mnr. Jakes Coetzee by 071 120 5918.




