Die lewe is ‘n lied en Michaela wil dans
'n Totaal van 160 dansers, waarvan 36 dansers in haar ouderdomsafdeling is, het deelgeneem.
Michaela Henri het Suid-Afrika van 5 tot 12 Mei tydens ‘n internasionale danskompetisie in die Réunion Eilande verteenwoordig en goud in die ‘Energy’-afdeling verwerf.
Sy het ook die ‘Banghra’ en ‘Slowstyle’-danse van dié styl gewen en ‘n brons in die klassiekestyl verower.
Daarbenewens sorg haar danswerk ook dat sy ‘n plek onder die top 12 van die Latynsestyl behaal.
‘n Totaal van 160 dansers, waarvan 36 dansers in haar ouderdomsafdeling is, het deelgeneem.
In elke styl was drie uitdunrondes gehou.
In die halfeindronde is ses dansers gekies wat ‘n laaste keer hul staal moes wys en meeding vir ‘n eerste tot sesde plek.
Vyf lande het elke ronde ‘n verteenwoordigende beoordelaar op die vloer gehad en verskeie beoordelaars het mekaar deurlopend afgelos.
Buiten die Solo-kompetisie was daar Vrydagaand ‘n “Showcase” gehou waar elke land verteenwoordigende dansers gehad het wat hulle vernuf gewys het en die gehoor met ‘n hoë gehalte van verskeie danse met kleurryke kostuums vermaak het.
Groepskompetisies is gehou waartydens dansers lukraak uitgeroep is om teen mekaar te dans in een van die 12 danse waarin hulle afgerig is.
Daar is egter aan al die deelnemers tyd vir bietjie ontspan gegun.
‘n Hele paar euros is in die winkels spandeer om aandenkings te koop om hul aan dié geleentheid te herinner.
Dit is verbasend hoe ver gebaretaal mens kan neem omdat Frans die oorheersende taal is wat daar gepraat word.
Die toer van die eiland was baie insiggewend met pragtige watervalle, vulkaniese uitbarsting-
besigtigings en ‘n ongekende natuurskoon met ‘n ryk, kleurryke plantegroei en pragtige kerkgeboue, om nie eens van die aanloklike see te praat nie.
Na aanleiding van Michaela se prestasies verwerf in Réunion, het sy reeds ‘n spesiale uitnodiging ontvang om deel van 2017 se Suid-Afrikaanse span te wees, waartydens een van Parys se vooraanstaande dansskoolverteenwoordigers haar ‘n oudisie gaan toestaan vir toelating tot verdere studie van drie jaar in verskeie dansstyle.
Dit sal geskied by ‘n gesogte instansie in Parys/Frankryk…voorwaar ‘n wortel voor die neus!



