Dekalb tweedespan vat nie nonsens nie
Soos 'n hond wat bloed geproe het, het Standerton vir die oorblywende gedeelte van die wedstryd met mening aangeval.
Standerton Dekalb se tweederugbyspan het die afgelope naweek, 28 Mei, die span van Sasol 3 die stryd aangesê en die wedstryd 43-10 gewen.
Sasol het aanvanklik goed gelyk met uitstekende breekslae en klipharde verdediging.
Die Standerton-manne moes eerste punte afstaan weens ‘n oortreding en Sasol het 3-0 voorgeloop.
Nie lank hierna nie en Standerton het ‘n strafskop van hul eie verdien.
Standerton se Brendan Coetzee, skrumskakel, het die bal van ‘n aansienlike afstand deur die pale gejaag en die telling was 3-3.
Met bal in die hand het Standerton gevaarlik gelyk, maar by die afbreekpunte is hul deur Sasol oorrompel.
Die ondersteuners het veral geniet as JP Lange, Standerton-stut, die bal gesien het.
Soos ‘n stoomroller het hy telkemale bo-oor teenstanders wat in sy pad staan, gedryf.
Die wedstryd het in die algemeen getuig van omgekeerde besit, aanvallende bewegings en groot duikslae.
Sien al die foto’s HIER
In die tweede helfte het dit na ‘n ander Standerton-span gelyk, die voorspelers het die fondasie gelê en die agterspelers die afronding gedoen.
Soos ‘n hond wat bloed geproe het, het Standerton vir die oorblywende gedeelte van die wedstryd met mening aangeval.
Die Sasol-spelers het ietwat besluitloos met bal in die hand gelyk, maar eindelik met ‘n troosdrie wat ook verdoel is, geslaag.
Standerton se voorspeler van die wedstryd was JP Lange en Juan ‘Skolla’ Pieterse was agterspeler van die wedstryd.
Standerton se kaptein, Brendan Coetzee, het na die wedstryd gesê: “Ek voel ons raak elke week beter en beter.
“Ons sukses kan toegeskryf word aan die dissipline wat die spelers wys wanneer dinge begin taai raak.”
Oor die span se spel gedurende die wedstryd toe sake gelyk was, het hy gesê dat hul besluit het om te fokus op die basiese beginsels soos om balbesit te behou en persentasierugby te speel.
“Ons teenstanders was baie fisies en krediet moet ook aan hulle gaan vir die manier waarop hulle kom speel het.
“Dit maak ons beter as individue, maar belangriker is om die seisoen te kan afsluit met die beker in die kas.
“Ons is ‘n span wat vir mekaar speel.”
Hy het ook die gemeenskap van Standerton bedank vir hul ondersteuning asook die bestuur vir al die harde werk wat agter die skerms gebeur.





