Danie wil eendag saam met Tiger Woods speel
Danie is 11 jaar oud en vinnig op pad na sukses in sy gholfloopbaan.
BETHAL – Danie Strydom is 11 jaar oud en speel gholf sedert vierjarige ouderdom.
Hy is reeds in sy eerste mededingende jaar vir die Mpumalanga-span gekies.
“Ek het eers net saam met my pa en oupa gestap wanneer hulle gholf gespeel het. Ek het later begin gholfballe slaan en goed reggekom. My oupa het my toe begin leer om gholf te speel,” het Danie vertel.
Danie het in 2013 vir die eerste keer aan ’n kompetisie deelgeneem.
Die gesin het vir ’n rukkie op Welkom gewoon waar hy by ’n professionele gholfspeler, Omar Sandy, lesse geneem het.
Hy is daar in die ontwikkelingspan van die Vrystaat opgeneem.
Danie is ’n leerling aan Laerskool Marietjie van Niekerk en is ook deel van dié skool se gholfspan.
Hy het al baie vleispryse gewen tydens kompetisies wat op Vrydae aangebied word en het ook al ’n prys vir naaste aan die pen gewen.
“Tiger Woods is vir my ’n goeie rolmodel, want hy speel nog altyd goeie gholf. My grootste droom is om eendag saam met Rory Mcilroy en Tiger Woods te speel en om die PGA-toernooi te wen. Sodra ek oud genoeg is, wil ek na Ernie Els se gholfskool gaan,” het Danie opgewonde gesê.
Hy het op meer as 10 bane in die land gespeel en sal graag ook op St Andrews in Skotland wil speel.
Danie was verlede jaar deel van die Junior Hoëveldrifseunspan en het in sy afdeling gewen.
Hy is verlede jaar as Laerskool Marietjie van Niekerk se gholfspeler van die jaar aangewys.
Vanjaar was hy deel van die Mpumalanga Junior C-afdelingspan waar hy ook in sy afdeling gewen het.
Danie het gesê: “My oupa, Marius Delport, ondersteun my baie.
“Ek en hy speel saam gholf en hy neem my ook na meeste van die kompetisies.”
Hy oefen gereeld sy kaphoue agter in die erf en laat nie ’n oomblik verbygaan om gholf te speel nie.






