Lukas Meiring brand vir skole-rugby
SECUNDA – Mnr. Lukas Meiring het raad vir die Springbokke, maar vir nou is hy Secunda se trots. Hy was al twee keer in Nieu-Seeland om sy afrigtingstegniek te verbeter en sien uit na ’n blink toekoms as afrigter. Mnr. Meiring is uit en uit ’n plaaslike man. Hy was in Trichardt Christian School en …
SECUNDA – Mnr. Lukas Meiring het raad vir die Springbokke, maar vir nou is hy Secunda se trots.
Hy was al twee keer in Nieu-Seeland om sy afrigtingstegniek te verbeter en sien uit na ’n blink toekoms as afrigter.
Mnr. Meiring is uit en uit ’n plaaslike man.
Hy was in Trichardt Christian School en Kruinpark Laerskool en later ook in Hoërskool Secunda.
Een van sy gunsteling herinneringe aan sy hoërskoolloopbaan was toe hy as jong speler gekies is om in 2005 vir die Mpumalanga 0/19-span te speel en Mpumalanga-kleure verwerf het.
“Daarna is ek na NWU Pukke waar ek BA MBW en sielkunde geswot het.”
Mnr. Meiring het sy vrou, me. Benice Meiring, op universiteit ontmoet waar sy vir haar LLB studeer het.
“Ons was saam op skool, maar ons het nie in dieselfde vriendekringe beweeg nie en het nie eintlik kontak met mekaar gehad nie.
“One het deur my broer wat haar vriend was, in haar gr. 12-jaar saam begin kuier en toe sy universiteit toe is, het ons in haar eerste jaar begin uitgaan.”
Hulle is al drie jaar getroud en het ’n babadogtertjie.
Mnr. Meiring is tans ’n onderwyser en rugby-afrigter by Hoërskool Secunda.
Toe hy vyf jaar oud was, het hy egter sy lewe anders sien uitdraai.
“Om eerlik te wees, ek wou boer en sal steeds wil, maar die Liewe Vader het ’n ander plan met my lewe gehad.”
In sy huidige beroep leef hy sy passie vir alle aspekte van rugby uit en sy studies in biokinetika en sportwetenskap help hom om van ’n ander kant af na die afrigting van jong sportmanne te kyk.
As afrigter is een van sy grootste suksesverhale dat hy al ’n span afgerig het wat na die Mpumalanga-eindronde deurgedring het.
Mnr. Meiring het sy heel eerste rugbywedstryd gespeel toe hy 13 jaar oud was en die gogga het hom op daardie dag behoorlik gebyt.
“Soos ek ouer geword het, het die passie vir rugby sterker begin brand.”
Mnr. Meiring is vir die eerste keer in 2014 oorsee om by die Massey Universiteit in Auckland, Nieu-Seeland, se Sport- en Rugby-instituut meer oor die tegniese kant van afrigting te leer.
Hy was in Februarie weer daarheen om ’n verdere kursus te voltooi.
“Ek het by die bestes in die wêreld geleer hoe om af te rig en spelers se vaardighede te verbeter.
“.Ek het geleer hoe om wedstryde te analiseer en hoe om talent te kweek.
“Ek het ook geleer dat ek nog baie het om te leer.”
“Een van die belangrikste dinge wat ek geleer het, was om spasie aan te val eerder as om spasie te skep, om verdediging te gebruik as ’n aanvalstegniek en hoe om spelers te leer om ’n prentjie te sien om te help om ’n besluit te maak sodat hulle dan die besluit suksesvol kan uitvoer. ”
Oor die stand van Suid-Afrikaanse rugby is hy optimisties.
“Ons is nog nommer drie in die wêreld en ek sal graag wil sien wat in die toekoms gaan gebeur.
“Ons sal meer aanvallende rugby moet begin speel, want ons manier van speel werk nie teen sekere spanne nie.
“Die afrigter sal die regte taktiek en tegnieke teen elke span moet gebruik omdat elke land hul eie manier van speel het.”
Sy ideale afrigterspos is om ’n voorry-afrigter te wees.
“Ek sal daarvan hou om net vories te coach want ek geniet dit om met die harde manne te werk.”
Mnr. Meiring is egter vir nou nog gelukkig waar hy is.
“Oor vyf jaar wil ek steeds by Hoërskool Secunda wees, want ek hou van ons tradisies en wil graag daarop bou.
“Ek kan nie sê hoe my pad vorentoe lyk nie, want wat ek wil hê en wat my Hemelse Vader wil hê, stem dalk nie ooreen nie, maar ek sal graag by ’n unie op skolevlak betrokke wil wees.
“Dis vir my baie uitdagend om jong seuns se vaardighede te ontwikkel en hulle te sien groei.”
As mnr. Meiring nou egter as Springbokafrigter aangestel word, sal hy die volgende drie dinge heel eerste verander: “Ek sal ’n gesonde kultuur vir spelers skep en sorg dat daar goeie verhoudings gebou word tussen spelers en afrigters.
“Ek sal sorg dat die spelers duidelik verstaan hoe ons wil speel en duidelike doelwitte stel wat ek as afrigter wil bereik.”



