Sasol Secunda Rolbalklub se mansspanne blink uit
Sasol Secunda Rolbalklub se mansspanne vaar baie goed by die Hoëveld Trips Rolbalkompetisie op 25 en 26 Junie te Ermelo.
SECUNDA – Sasol Secunda Rolbalklub het verlede naweek aan die Hoëveld Trips Rolbalkompetisie op Ermelo deelgeneem.
Die mansspanne het Saterdag gespeel en die vroue Sondag.
Vier mansspanne het deelgeneem en elke span het dus drie wedstryde gespeel.
Twee punte is aangeteken vir ’n wen, een vir gelykop speel en nul vir ’n verloor.
Teen die tweede ronde was al vier die mansspanne gelyk, maar die punteverskille het ’n ander verhaal vertel.
Tydens die laaste ronde het albei spanne van Secunda goed in hul wedstryde teen Standerton en Ermelo gevaar.
Gustav Kruger, Lanie Nel en Pieter Smit van Secunda het geseëvier met 4 wenpunte en ’n reuse +38 punteverskil.
Die span van Lappies Labuschagne, Piet van Aswegen en Callie van den Hooven het ook vier wenpunte gehad en ’n +6 punteverskil, wat hulle ’n tweede plek besorg het.
Vyf vrouespanne het elk vier wedstryde gespeel
Sasol Secunda Rolbalklub se vroue het ’n vierde plek behaal met vier wenpunte en ’n punteverskil van 0.





