Standerton Dekalb Rugbyklub Eerstespan wen eindstryd 24-6
Die spanning het van die afskop hoog geloop, maar Standerton was doelgerig en het seker gemaak om van die begin die fondasie reg te lê.

Standerton Dekalb Rugbyklub se eerstespan het oomblikke gelede as Hoëveldwenners uit die stryd teen Ermelo getree.
Hoewel die wedstryd getuig het van verskeie hanteerfoute deur albei spanne, het ondersteuners nie gewaag om te roer nie.
Die spanning het van die afskop hoog geloop, maar Standerton was doelgerig en het seker gemaak om van die begin die fondasie reg te lê.
Riaan Groenwald, losskakel, het sy skopskoen aangehad en gesorg dat Standerton reeds vroeg punte op die telbord sit nadat Ermelo in die eerste minute oortree het.
Dit was nie lank hierna nie en hy het die bal weer deur die pale gejaag met uitstekende skepskop.
Ermelo moes regdeur die wedstryd keer vir wat hul werd was en kon slegs daarin slaag om twee strafskoppe te verdoel.
Die verdediging van Standerton was uit die boonste rakke en selfs met kanonne sou dit moeilik gewees het om deur te dring.
Op die aanval het Standerton goed gelyk maar was keer op keer hul eie grootste vyand wat hantering betref.
Leon ‘Tielie’ Crawford, flank, het egter gespog met ’n briljante breekslag.
Sy tydsberekening was perfek – hy het sy teenstanders ingetrek en die bal uitgeskiet na Juan ‘Shrek’ Kotze, stut, wat self nog baie moes doen voor hy oor die lyn kon seil.
Die manne van Ermelo het hard agter die pale gepraat en mekaar tot die laaste minuut motiveer.
Hulle het ’n paar goeie lopies gehad, maar nes Standerton, was daar te veel hanteerfoute en hul moes ten einde laaste die knieg buig.
Maak seker jy kry jou uitgawe van die Standerton Advertiser om die volledige verslag te lees.








