Standerton Dekalb Rugbyklub vermorsel Laeveld-wenners 70-19
Op verdediging was Leon ‘Tielie’ Crawford ’n yster en het so nou en dan ’n ge-oe en ge-aa uit die skare ontlok as dit gelyk en geklink het soos ’n kop-teen-kop botsing.
Standerton Dekalb Rugbyklub is Puma-wenners nadat hul die Laeveld-wenners, Barberton, 70-19 vermorsel het.
Van ’n eindstryd het mens meer van die Barbertonspan verwag, maar dit het met tye gelyk of die manne rugby gekyk in plaas van gespeel het.
Met slegs twee minute op die klok was Standerton op die telbord na ’n puik skoppie deur Riaan Groenewald oor die koppe van twee Barbertonverdedigers.
Die bal het mooi opgewip vir Groenewald wat met ’n kort aangee vir Tyrone Pienaar gevoer het wat op sy beurt Danny Myburgh pale toe gestuur het.
Myburgh het deur twee verdedigers gebreek en onder die pale geduik dat die stof staan.

Groenewald het die skop verdoel en dit het gelyk of die manne van Barberton óf vlugvoos óf aan bomskok gely het, hoe ookal dit mag sy, dit het beroerd gelyk!
Dit was nie lank hierna nie of ’n paar Barbertonners het onder die stewels van Willem Martin beland.
Martin het goeie meters gewen en Pienaar was daar om te ondersteun.
Pienaar kon daarin slaag om ’n paar teenstanders besig te hou en het op die regte tyd aan Tiaan Potgieter uitgegee.
Potgieter het laat dit lyk of sy eweknie parkering soek toe hy op vollevaart, net minder as die spoed van lig, tone gepunt, by die kantlyn-af doellyn-toe gehol het.
Die afbreekpunte het vir ’n paar stampe en stote gesorg en rooi vlae en humeure laat opvlieg, maar Standerton was baas en het gereeld balbesit omgekeer.
Op verdediging was Leon ‘Tielie’ Crawford ’n yster en het so nou en dan ’n ge-oe en ge-aa uit die skare ontlok as dit gelyk en geklink het soos ’n kop-teen-kop botsing.
Benna Groenewald het ook op verdediging uitgestaan en het die bal keer-op-keer afgevat in die duikslag.
Martin was ook onder die puntemakers in die eerstehelfte.
Rustyd het Standerton 41-0 voorgeloop.
Standerton se aanval het geen perke geken nie, en Jaun-claude Schambriel, Myburgh en Potgieter het weer geleentheid gekry om agter die pale te kuier.
Barberton het in die tweedehelfte goed teruggeveg en aansienlik meer bal gesien weens verskeie oortredings deur Standerton.
Hul het daarin geslaag om drie drieë te druk en twee te verdoel.
Die berg was egter te hoog om te klim en met die tyd wat verstreke was, was dit te ver om om te loop.
Standerton se Voorspeler van die Wedstryd was Willem Martin en agter was Benna Groenewald.
Standerton se bestuur het na afloop van die wedstryd die ondersteuners, spelers en ander rolspeler bedank.
Standerton kom vandeesnaweek, omstreeks 3.30nm teen Middelburg 1 in die Presidentsliga op Middelburg se velde te staan.
Die bestuur het ondersteuners gevra om weer eens agter die manne te staan.
Vir meer inligting of om ondersteunersbaadjies te koop, skakel mnr. Ben Vorster, Standerton Dekalb Rugbyklub voorsitter by 083 650 3465.
Kry jou uitgawe van die Standerton Advertiser om te hoor wat sommige ondersteuners te sê gehad het.






