Local sportSport

Baanbeamptes het net mooi woorde vir Castor

“Nie net het sy ongelooflik gehardloop en bygedra tot ons vroue se 4x400m-hekkiesoorwinning nie, maar sy is ook besonder vriendelik en nederig,” het me. Labuschagne gesê.

SECUNDA – Me. Estelle Opperman en me. Thea Labuschagne het by die onlangse Afrika Senioratletiekkampioenskap in Durban as tydhouding- en baanbeoordelingsbeamptes gewerk.

Albei het vroeg in hul lewens as atletiekbeamptes betrokke geraak.

Me. Labuschangne werk as ’n veiligheidsklerk, maar behalwe vir hoërskoolatletiekvernuf, het sy nooit professioneel aan atletiek deelgeneem nie.

Me. Opperman, ’n onderwyser, was wel ’n kranige spiesgooier, maar het nie dié sport verder beoefen nie.

Kobus van der Merwe, ’n groot naam in die plaaslike atletiekwêreld, was die dryfveer agter albei se kwalifikasies en registrasies as Atletiek Suid-Afrika- en Internationl Association of Athletics Federations- (IAAF) beamptes.

Me. Labuschagne het verduidelik hoe sy en haar vriendin by die afgelope kampioenskap betrokke geraak het.

“Omdat ons IAAF-geregistreerde beamptes is, is ons genooi om by die kampioenskap in Durban te gaan werk.

“Ons is goed deur die organiseerders voorberei en het vanaf 17 Junie tot 22 Junie opleiding ontvang.”

Die kampioenskap het vanaf 22 tot 26 Junie plaasgevind en 49 Afrikalande het deelgeneem.

Me. Opperman is bewus van die reuse verantwoordelikheid wat op die skouers van atletiekbeamptes rus.

“As jy by baanbeoordeling betrokke is, veral by die lang afstande soos die 5 000m en die 10 000m, is dit jou verantwoordelikheid om jou atleet dop te hou.

“Ons het ’n geval gehad waar van die voorste atlete twee of drie rondes voor die ander op die baan was, en dit is dan die beampte se werk om te sorg dat sy atleet presies weet hoe lank hy nog moet hardloop, want daarsonder kan die atleet nie homself voorberei en hardloop volgens sy program nie.”

Die spanningsvlakke is ook soms hoog wanneer dit by tydhouding kom.

Me. Labuschagne het gesê: “As jy die skoot van die rewolwer hoor, is dit te laat.

“Jy moet kyk vir die rokie en dan is dit net jy, jou vinger en die atleet wat tel.

“Jou akkuraatheid bepaal of die atleet sinvolle terugvoering oor hul wedloop kry.”

Albei vroue het saamgestem dat jy beslis ’n passie vir atletiek moet hê.

Me. Opperman het veral die lang ure langs die baan beklrmtoon.

“Dis ’n vol dag se werk en jy sien baie van die atlete tydens hul slegste oomblikke professioneel.

“Daar kan net een wenner wees en jy moet by die reëls bly, as hy buite die lyn is, is hy uit, as die skoot geklap het, het dit geklap.”

“Mens raak lief vir die atlete.

“Jy leer hulle ken by só ’n byeenkoms en dan deel jy absoluut in hul sukses of hartseer.”

Hoewel die vroue dit duidelik gemaak het dat hulle geen gunstelinge het nie en eweveel van alle Suid-Afrikaanse atlete hou, het hulle egter ingegee en erken dat Castor Semenya se optrede en manier van doen by die afgelope kampioenskap werklik uitgestaan het.

“Nie net het sy ongelooflik gehardloop en bygedra tot ons vroue se 4x400m-hekkiesoorwinning nie, maar sy is ook besonder vriendelik en nederig,” het me. Labuschagne gesê.

“Sy het veral haar oog op van die jonger atlete gehou en gereeld met ’n glimlag, ’n aanraking en ’n sagte woord die jonges moed ingepraat.

“Sy is die ideale voorbeeld van ’n top atleet wat nog baie ver kan gaan en ons sien daarna uit om haar by die Olimpiese Spele dop te hou.

“Suid-Afrika kan trots wees op dié jong vrou.

“Ons is tans albei IAAF-vlak 1 beamptes en kan dus oral in Afrika werk.

“Sodra ons as vlak 2 gekwalifiseer het, kan ons ook in Europa werk, en met vlak 3 kan ons by van die groot internasionale byeenkomste werk.”

Die ondervinding wat hulle in Durban opgedoen het, sal hulle bybly en het albei gemotiveer om hoog te mik in die toekoms.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button