Onderhoud met Juan Kotze Pumas-Amateurspan loskopstut
Dit is altyd lekker om die agterspelers te wys wat in ’n stut sit.

Vraag: Hoe voel jy oor jou seisoen tot dusver?
Antwoord: Baie goed, ons het doelwitte gestel aan die begin van die seisoen en hard gewerk om dit te bereik.
Vraag: Is jy opgewonde dat jy vir die Pumas-Amateurspan gekies is?
Antwoord: Definitief, met die manier waarop ons die seisoen op ’n hoogtepunt by Standerton Dekalb Rugbyklub afgesluit het is dit ’n groot bonus om beloon te word met ’n posisie in die Pumas-Amateurspan.
Vraag: Watter rol het jy die meeste geniet op die veld vanjaar, aanval of verdediging?
Antwoord: Aanval was verseker die lekkerste. Dit is altyd lekker om die agterspelers te wys wat in ’n stut sit.
Vraag: Is jou skrumstyl baseer op tegniek, krag of albei?
Antwoord: Krag gee jou maar net die voorvoet, maar dis tegniek wat die grootste rol speel.
Vraag: As ’n onderwyser en afrigter by Laerskool Jeugkrag, hoe belangrik is die ontwikkeling van spelers op skoolvlak?
Antwoord: Ek kan vir jou boeke oor die belangrikheid daarvan skryf. Dit lê die fondasie van ons land se jong talent, maar die belangrikste is dat spelers op dié vlak nie vergeet om die spel te geniet nie, dit is waaroor dit gaan.
Vraag: Watter invloede in jou loopbaan sou jy sê het ’n rol gespeel in jou rugbyloopbaan, hetsy afrigters of familie?
Antwoord: Familie, my pa wat oorlede is toe ek 16 jaar oud was, het ’n groot invloed op my rugbyloopbaan gehad.
Met sy afsterwe was die passie net soveel meer om my talente op die veld uit te leef.



